
Die Amerikaanse sentrale bank (Federal Reserve, of Fed) het op 14 Desember 2016 die korttermynrentekoers opgestoot met 0.25% na 0.75%. Hoër inflasie en laer werkloosheid was die twee groot beweegredes vir die toename.
Volgens me. Janet Yellen, die president van die Fed, lyk die Amerikaanse arbeidsmark tans dieselfde as voor die 2008-resessie. Gebaseer hierop wil dit ook blyk dat die Fed nog drie rentekoersverhogings beplan in 2017.
Die aangewese Amerikaanse president, mnr. Donald Trump, gaan natuurlik ook impakteer op die Fed se besluite rondom rentekoersverhogings. Tans is Trump se ekonomiese plan onduidelik, en die Fed gaan ’n wag-en-sien-benadering volg. Wat wel gesien kan word, is dat die markte verwag dat Trump se fiskale beleid meer akkommoderend gaan wees. Sprake van besteding op infrastruktuur word alreeds genoem.
Die kommer rondom meer stimulerende fiskale beleid is dat staatskuld, wat reeds hoog is, sal toeneem. Die onderstaande grafiek wys dat die VSA se publieke skuld tot bruto binnelandse produk (BBP) op 104.17% staan.
Dit vergelyk nie baie goed met die syfers van ander eerste wêreldse lande nie, soos op die onderstaande tabel gesien kan word. Die VSA se staatskuld van 106.71% van BBP lyk heelwat slegter as dié van China, wat tans op 65.58% staan.
Terug na die rentekoerse: Die genoemde verhoging in rentekoerse in 2017 beteken dat die Fed se monetêre beleid gaan verander na minder akkommoderend. Dit is te verwagte, veral na die Fed se akkommoderende beleid sedert 2008 se finansiële krisis.
Wat Suid-Afrika se rentekoerse betref: die Reserwebank het in die tweede helfte van 2016 aangedui dat dit moontlik naby aan die einde van die rentekoersverhogingsiklus kan wees. Dit beteken dat die verskil in rentekoerse tussen die VSA en Suid-Afrika, oftewel die sogenaamde rentekoersdifferensiaal, kan begin krimp in 2017. Tans is die repo-koers in Suid-Afrika 7% en die “Federal Funds rate” in die VSA is 0.75%, dit wil sê ’n verskil van 6.25%.
Hoër rentekoerse in die VSA dui daarop dat die dollar verder kan versterk teen meeste geldeenhede. Daar moet egter in gedagte gehou word dat indien daar wel drie rentekoersverhogings van 0.25% elk in 2017 in die VSA gebeur, en geen verhogings in Suid-Afrika, sal die differensiaal afneem na 5.5%. Dit is nie ’n baie groot verskil nie, omdat die differensiaal van ’n hoë basis af kom.
Rentekoersverhogings in die VSA sal moontlik meer problematies wees vir die Europese Unie, wat tans ’n rentekoers van 0% handhaaf. Die lae basis beteken dat rentekoersverhogings in die VSA ’n groter impak op die euro kan hê. Koppel hiermee saam die nuwe probleme wat deur Italiaanse banke ondervind word, en die euro kan dalk selfs swakker as $1 gaan. Die onderstaande grafiek wys die euro verhandel tans teen $1.04.
Wat die Amerikaanse ekonomie betref: Trump hoop om met ’n uitgebreide fiskale beleid meer geld in Amerikaners se sakke te plaas. Monetêre beleid tot dusver kon dit nie bewerkstellig in die mate waarvoor gehoop was nie. Trump meen die ekonomie kan meer bevoordeel word deur sy benadering.
In slotsom, ’n swakker rand is goed vir uitvoere. Saam met Amerikaanse fiskale besteding in die vorm van infrastruktuuruitbreiding sal dit moontlik lei na ’n groter vraag na kommoditeite. Beide hierdie faktore kan lei tot ’n hoër groeisyfer in die Suid-Afrikaanse ekonomie in die volgende paar jaar.
- Edwin Smit is ’n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ’n gemagtigde finansiële diensteverskaffer van die FSB (FSP 39 889), en ook ’n geregistreerde JSE-handelaar van BVG Commodities (Lid van die JSE). Sy kontakbesonderhede is: 012 484 4013 of edwin.smit@bvg.net. Lesers is welkom om hom te kontak om in te teken vir BVG se daaglikse valuta- en aandelemark-oggendverslae. BVG werk, onder meer, in assosiasie met Momentum SP Reid Securities. BVG werk ook saam met een van die top 5 banke om vir kliënte rekeninge met hoër rentekoerse oop te maak.