
Die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging (SAAKV) se navorsingsimposium word op 19 Februarie by die Fairview River Lodge by Tzaneen in Limpopo gehou en spog met 'n internasionale kleur én 'n hele paar swaargewig-sprekers.
Van die sprekers is dr. Reubin Hofshi van die Hofshi-stigting, Fallbrook, Kalifornië (VSA), 'n wêreldbekende avokadokundige en stigter van die gewilde webwerf www.avocadosource.com , prof. Schalk Louw, 'n spesialis-entomoloog van die Universiteit van die Vrystaat en mnr. Rob Blakey van Westfalia Tegnologiese Dienste wat 'n oorsig sal gee oor die afgelope 35 jaar se SAAKV-jaarboek.
Me. Elsje KLeynhans, een van Subtrop se tegniese beamptes, sal 'n langverwagte nuwe webwerf, naamlik Subtrop Goggas, bekendstel.
Registrasie vind plaas vanaf 07:20 en die verrigtinge begin om 08:00. Registrasie kos R180 vir SAAKV-lede en R400 per persoon vir nie-lede. Meer inligting is beskikbaar by me. Lizette de Wet by 015 307 3676 of stuur 'n e-pos aan Lizette@subtrop.co.za.