
Meer as 800 inskrywings is vanjaar beoordeel om die Suid-Afrikaanse Suiwelprodukkampioen vir 2011 aan te wys. Luidens ’n verklaring het 41 beoordeelaars op 31 Maart tydens die 177ste kampioenskapsbyeenkoms 833 inskrywings van 77 groot- en boetiekkaasvervaardigers beoordeel om te besluit wie vanjaar se kampioen sal wees.
Die groep moes die kase in ’n parfuumvrye omgewing teen ’n temperatuur van 18 °C in absolute stilte beoordeel. Hulle het ook besluit watter produkte die gesogte Qualité-toekenning waardig is.
Verlede jaar se Suiwelprodukkampioen van die Jaar was ’n onbekende bokmelkkaas van Gauteng. Enige suiwelproduk – ’n kaas (hard, vars of romerig), botter, jogurt, gegeurde melk, suiwelnagereg of roomys – kan die wenner wees.
’n Eerste keer
’n Beoordeelaar wat in die afgelope kampioenskapsbyeenkoms sy eerste buiging gemaak het, was Vernon Manuel, die eerste student wat in 2005 die Boergondiese kaasmaakbeurs gewen het.
Die beurs, wat geborg word deur die Wes-Kaap se departement van landbou, gee aan die provinsie se leerlingkaasmakers die geleentheid om hul kaasmaakkennis te verbreed gedurende ’n studie- en opleidingsprogram in Boergondië, Frankryk.
Nadat hy sy kwalifikasie in die voedseltegnologie verwerf het, sal Manuel as gehaltebestuurder by ’n bokmelkkaasmakery in die Paarl aansluit. Hy is tans die suiweltegnoloog by ’n winkelgroep, waar hy verantwoordelik is vir die gehalte van die groep se kase.
Uitslae
Die wenners sal op 27 April tydens die Danisco Qualité Dinee aangekondig word. Kaasliefhebbers sal ook die produkte eerstehands by die 10de Suid-Afrikaanse Kaasfees van 29 April tot 2 Mei op Sandringham, Stellenbosch, op die proef kan stel.
4 April 2011