
Hierdie internasionale inisiatief het sleutelnavorsingsprioriteite bepaal en beklemtoon die belangrikheid van diversiteit, samewerking en finansiering vir plantnavorsing om klimaatsverandering, die biodiversiteitskrisis en volhoubare voedselproduksie aan te pak.
Die lys van 100 vrae is in ’n toonaangewende internasionale joernaal, New Phytologist, gepubliseer. Hierdie joernaal konsentreer op oorspronklike navorsing van hoë gehalte oor die breë spektrum van plantwetenskappe.
Die oorspronklike lys sleutelnavorsingsprioriteite wat deur ’n paneel wetenskaplikes gedebatteer en opgesom is, is langer as ’n dekade gelede gepubliseer. Sowat tien jaar later het die paneel besin oor die ontwikkelinge in plantwetenskap en die vordering wat gemaak is om hierdie navorsingsareas te takel.
Om navorsingsprioriteite te herevalueer, is ’n nuwe paneel van 20 plantwetenskaplikes uit 15 lande in 2022 saamgestel. Onder leiding van prof. Claire Grierson van die Universiteit van Bristol in Brittanje het die wetenskaplikes meer as 600 vrae oor plantwetenskap ingesamel van weetgierige lede van die publiek tot wetenskaplike en nywerheidsleiers reg oor die wêreld. Hulle het toe 100 van die belangrikste vrae vir plantwetenskap geformuleer. Die Bristol-sentrum vir landbou-innovasie het die navorsing se finansiering verskaf.
Die paneellede is in vier breë streke verdeel (Europa, Noord- en Suid-Amerika, Asië en Oseanië, en Afrika). Hierdie streeksverdeling het ’n geleentheid gebied om potensiële streeksverskille in vraagseleksie te ondersoek. Elke streekspaneel het onafhanklik 100 vrae gekies om hul eie lyste te vorm voordat dit gesamentlik oor streke gekombineer is om die top-100 globale vrae te lewer.
Elke onafhanklike streek se keuse van 100 vrae het die algemeenste woorde in die finale lys van 100 vrae weerspieël: klimaat, verandering, gewas, spesie en voedsel. “Dit dui aan dat ons paneellede hierdie onderwerpe gesamentlik geprioritiseer het, ongeag die streek. Die voorkoms van hierdie sleutelwoorde oor alle streke, en in die top 100, dui op 'n mate van finale vraag voorspelbaarheid, terwyl dit betroubaarheid binne die gekose vraag identifikasie en seleksie metodes demonstreer.”
Die toptien vrae op die lys sluit in vrae oor klimaatsverandering, gemeenskapsamewerking in wetenskap, voedselsekerheid, biodiversiteit, volhoubare plantproduksie, plant-plant-interaksies, plantsiektebestuur, plantmikrobe-interaksies, plantaanpassing en plantstresreaksies. Die topdrie vrae op die lys is:
- Klimaatsverandering: Hoe sal klimaatsverandering plantoorvloed, produktiwiteit, biostreke en ekosisteme beïnvloed?
- Wetenskap in die gemeenskap: Hoe kan ons verseker dat die uiteenlopende doelwitte en behoeftes van ons diverse samelewings deur plantwetenskaplikes verstaan en vervul word?
- Voedselsekerheid: Hoe benut ons bestaande genetiese diversiteit om klimaatbestande gewasse te skep?
Die studie demonstreer hoe belangrik plantwetenskaplikes glo die stryd teen klimaatsverandering is, beklemtoon wêreldwye ongelykhede in wetenskapsfinansiering en wys ’n diverse reeks belangrike navorsingsonderwerpe uit. Hierdie studie het ook gewys hoe ’n globale gemeenskap van plantwetenskaplikes, met ’n wye reeks kundigheid, die strategiese prioriteite vir plantnavorsing beskou en bied insig in hoe verskillende navorsingsareas belangrik is vir verskillende globale streke. Die navorsing beklemtoon hoe ’n internasionale oefening gebruik kan word om diverse navorsingsvrae te identifiseer.
Grierson sê hierdie twee studies vorm ’n unieke en waardevolle hulpbron vir navorsers en nuwelinge tot plantwetenskap, insluitend medewerkers aan interdissiplinêre projekte, studente en vroeëloopbaannavorsers, en vir beleidsontwikkeling.
Dr. Ida Wilson van die departement landboukunde aan die Universiteit Stellenbosch sê haar werk is oplossingsgedrewe en moet die kwessies wat boere in Suid-Afrika en Afrika in die gesig staar, direk takel. “As deel van die Afrika-paneel is ek baie trots op die Afrika-insette, en dankbaar vir die geleentheid om ons stemme te laat hoor. Ek mentor ook jong wetenskaplikes en die opgewondenheid wat die publikasie veroorsaak het, is tasbaar.”
Nog ’n paneellid, dr. Shyam Phartyal van Universiteit van Nalanda in Indië, sê een van die belangrikste stappe van hierdie studie is om ’n hoë vlak van diversiteit te handhaaf – nie net in die vrae wat gevra word nie, maar ook in die keuse van paneellede.
Saam bied hierdie twee studies ’n uitstekende inleiding tot hoe plantwetenskap ontwikkel en die belangrikheid, omvang en diepte van navorsing wat aangespreek moet word.
Skakel na die twee studies:
Armstrong, E.M., et al. (2023) One hundred important questions facing plant science: an international perspective. New Phytologist. doi: 10.1111/nph.18771
Larson, E.R., et al. (2023) One hundred important questions for plant science – reflecting on a decade of plant research. New Phytologist. doi: 10.1111/nph.18663
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.