Suid-Afrika se hawens is van die ondoeltreffendste ter wêreld – en die bykomende druk wat aanlyn handel op die skeepvragbedryf plaas, is sout in uitvoerders se wonde.
Ekonomieë wat terugbons ná die koronaviruspandemie, asook ’n skerp styging in aanlyn handel het die vraag na vragskepe die hoogte laat inskiet. Dit het tot groot tekorte, vertragings en verhoogde skeepstariewe gelei.
“Vanaf November tot Januarie het die vraghouerhandel tussen China en Amerika met 23% gegroei,” het mnr. Iain McIntosh, hoof van bemarking by Ocean Network Express, ’n redery vir verkoelde vragverskeping, gesê. Hy was ’n spreker op Berries ZA se tegniese simposium in die Paarl.