Al het party van die paaie ’n bietjie slaggate daarin, is enige volbloedboer nou al aan plattelandse paaie in Suid-Afrika gewoond en Manie glo dit sal niemand ontmoedig nie. Tewens, die verwagting is dat verlede jaar se rekord van 78 648 besoekers oortref sal word.
Vanjaar se 740 uitstallers is ook die meeste tot nog toe. Die eerste Oesdag is in 1967 op die plaas Donkerhoek naby Bloemfontein gehou en 200 boere het dit bygewoon. Daarna is dit op verskillende plase aangebied tot dit in 1974 ’n permanente tuiste 15 km buite Bothaville gevind het.
Sedertdien was die groei allemintig en vandag is dit sekerlik die grootste landbou-tentoonstelling in die Suidelike Halfrond wat in private besit is. Volgens Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, is vanjaar se tema “Doeltreffendheid met tegnologie” en ’n groot verskeidenheid nuwe tegnologie, produkte en dienste sal te sien wees.