
Die olyfoliebedryf in Amerika ly, soos in Suid-Afrika, skade weens die beweerde misleidende etikettering van ingevoerde produkte, wat glo nie aan die aangeduide standaarde voldoen nie. Dié land se regering sê hy sien uit daarna om met beamptes saam te werk om die land se olyfoliebedryf teen invoer van Europa te beskerm.
’n Verslag is onlangs saamgestel oor die toestande van mededinging tussen die Amerikaanse olyfoliebedryf en groot buitelandse verskaffers. Luidens ’n verklaring is die uitslag van dié verslag duidelik: “Bedrog en verkeerde etikettering saam met handelsbeskerming en die reuse-subsidies wat Europese produsente geniet, kom wydverspreid voor. Dit veoorsaak ’n groot probleem vir Amerikaanse olyfolieprodusente.”
Me. Kimberly Houlding, uitvoerende direkteur van die Amerikaanse Olyfolieprodusente-vereniging (AOOPA), sê hulle hoop dat hul land se beamptes en dié van Europa op regverdige en billike handelspraktyke ooreen sal kan kom.
Standaarde vir Suid-Afrika
Die Suid-Afrikaanse mark het reeds in 2008 bekend gemaak dat sommige olyfolies wat as ekstrasuiwer geëtiketteer die land inkom, verkeerd gemerk is en inderdaad nie van die aangeduide gehalte is nie. Die bedryf het sedertdien ’n projek saam met die Departement van Handel en Nywerheid onderneem om die gehalte van ingevoerde en plaaslike produkte te toets om te verseker dat ’n produk van 'n hoë gehalte teen ’n regverdige prys aan verbruikers gelewer word.
Die Suid-Afrikaanse olyfbedryfsvereniging, SA Olive, het reeds ’n kode van beste praktyk waaraan sy lede moet voldoen. ’n Komitee van die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS) het 'n dokument as die Suid-Afrikaanse standaard vir olyfolie saamgestel, wat binnekort vir openbare kommentaar beskikbaar sal wees.
Die vereniging sê die verslag is ’n teken dat die plaaslike bedryf nie alleen staan in sy stryd teen invoer wat plaaslike pryse afdwing nie.