Dit was nie om dowe neute nie dat die Landbounavorsingsraad (LNR) en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye mnr. Llewellyn Angus van die plaas Whispering Willows by Arlington in die Oos-Vrystaat vereer het met die prys as Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar vir 2017.
Sy Wisp-Will-kuddes (’n Simbra- en ’n Simmentalerstoetery) is uit ’n hele aantal ander finaliste as die beste van die bestes bekroon. Dit het die kroon gespan op jare lange doelgerigte seleksie, teling, die gebruik van wetenskaplike boerderymetodes en harde werk.
Wat word alles in aanmerking geneem met hierdie eerbewys? Daar word gekyk na kuddevrugbaarheid, bestuur, teeldoelwitte en hoe dit in die kuddes se genetiese neigings weerspieël word, betrokkenheid by opkomende boere, betrokkenheid by komitees, die bestuur van telersgenootskappe en ander dienste aan medeboere en die landbou.