Vir meer as 30 jaar doen ek en my kollega AJ du Plooy, medeskrywer van vandeesweek se rubriek, boedelbeplanning vir sakelui, boere, persone in professionele beroepe en ander mense. Ons doen holistiese beplanning, asook aftree-, beleggings- en sakebeplanning.
Tydens die ontledings word testamente en trusts geoudit en gewysig waar nodig. Sake- en ander risiko’s word geïdentifiseer, en wenke en voorstelle word daaroor gegee.
Die wysiging van boedelstrukture en vererwingswenke is gewoonlik noodsaaklik om belastings en koste by afsterwe te verminder. Ons ervaar daagliks dat mense se sake nie in orde is nie en dat vele blapse gemaak word. Almal behoort vooraf te weet hoe sake gaan verloop as ’n geliefde sterf.