Groeivooruitsigte in die komende dekade vir lewende hawe, Suid-Afrika se grootste subsektor vir die landbou, is op die oomblik op ’n naaldpunt gebalanseer weens laer plaaslike verbruik en beperkinge op uitvoer weens dieresiektes, waarsku BFAP in sy jongste vooruitskouing vir die tydperk 2022 tot 2031.
In die verslag wat pas bekend gemaak is, beklemtoon BFAP dat dié sektor groot potensiaal het vir versnelde inklusiewe groei, maar dat miljarde rande in uitvoer verlore gaan weens dieresiektes wat nie beheer kan word nie.
Daar was goeie vooruitgang in die afgelope dekade danksy aansienlike beleggings in die intensiewe produksie van hoenders, eiers en varkvleis. Die beesvleisbedryf het verskuif van ’n netto invoerder na ’n netto uitvoerder. Woluitvoer was ’n groot suksesverhaal – veral omdat dit die uitvoermark vir kleinskaalse kommunale boere ook oopgemaak het.