
“Dit is vir ons ’n nuwe gebied en dit maak vir ons deure oop, nie net na stoetveilings in die area nie, maar ook na ander lewendehawebesigheid,” sê dr. Cobus Oberholster, BKB se hoofbestuurder van lewende hawe, afslaersdienste en eiendomsbemarking.
Die maatskappy, wat reeds goed gevestig is in die bedryf vir natuurlike vesel en lewende hawe, diversifiseer nou na ’n wyer teenwoordigheid in die vleisskaap- en beesmark. Die verkryging bied nuwe geleenthede vir rasse soos die Dorper en ander inheemse vleisskaaprasse, asook die beeste waarmee in die Noord-Kaap geboer word.
“Dit vorm deel van die maatskappy se aaneenlopende groeistrategie,” sê Oberholster.
BKB sal nou ook veeboere bedien oor ’n gebied wat strek van Upington suid tot in Calvinia, noord na die rooi sandduine van die Kalahari en distrikte oos daarvan, wat Griekwastad, Prieska en Kuruman insluit. Die gebied sal onder BKB se sentrale streek val, wat tans aan die voorpunt van stoetveeveilings in Suid-Afrika staan.
“Boere het nou nie net toegang tot die maatskappy se logistieke vermoëns om veilings aan te bied nie, maar ook tot die aanlyn verhandelingsplatform,” sê Oberholster.
Dit sluit die weeklikse stoorlam- en speenkalfveilings in wat Maandae aangebied word. Dit dien reeds as prysbepalingsmeganisme in die Suid-Afrikaanse stoorlammark.
Die skakelpersoon vir die stoetveeveilings en ander lewendehawetransaksies is mnr. Stiaan von Wielligh, BKB se verteenwoordiger in die gebied.
Volgens Oberholster bied BKB bepaalde kundigheid en vermoë vir die aanbied van stoetveeveilings in die gebied. Die verkopers sal nou toegang hê tot ’n vervierdubbeling in kopers. Die maatskappy bring ook die logistieke en mobiele vermoë na boere om veilings op enige plek op die platteland aan te bied.
Mnr. Jacobus le Roux, hoofbestuurder van korporatiewe bemarking en openbare betrekkinge by BKB, sê die maatskappy het die afgelope paar jaar aansienlik uitgebrei in die lewendehawebedryf. Die maatskappy het onder meer Louwid en Van Wyk Lewende Hawe by BKB ingelyf. Sedertdien is die Oos-Kaapse afslaersmaatskappye Riverview Trading en RobCaw deur BKB oorgekoop, asook GWK se Humansdorp- en Vrystaattak. Sodoende kon die maatskappy sy teenwoordigheid in die Oos- en Wes-Kaap, asook die Vrystaat verbreed. In dié tydperk het hy ook die eiendomsagentskap Home & Hectare tot BKB se stal toegevoeg waar nie net op residensiële eiendom gekonsentreer word nie, maar ook op landbou-eiendom.
“Nou, met KLK by plaas dit die maatskappy baie prominent in die lewendehawebedryf as afslaer, wat grootte én teenwoordigheid betref,” voeg Le Roux by.
Oberholster glo daar lê ’n belowende toekoms vir die lewendehawebedryf in Suid-Afrika voor. Volgens die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryfstrategie vir 2030, waarvan die eerste fase deur die buro vir voedsel- en landboubeleid opgestel is, kan die rooivleisbedryf met 20% toeneem bo die basislyn om ’n bykomende R12 miljard per jaar tot Suid-Afrika se landbou-uitvoer toe te voeg.