
Nuwe studie toon dat G20-lande, wat 80% van die wêreld se BBP verteenwoordig, oor die afgelope twee jaar minstens $21,8 miljard (R388 miljard) meer vir kunsmisinvoer betaal het, terwyl nege van die grootste kunsmismaatskappye in dié tyd bykans $84 miljard (R1 495 miljard) wins gemaak het.
Die studie is gedoen deur GRAIN, internasionale organisasie wat hom beywer vir die ondersteuning van kleinskaalse boere en IATP, die instituut vir landbou-handelsbeleid met sy hoofkantoor in Minnesota, Amerika, wat onder meer navorsing doen oor volhoubare voedselproduksie.
Die verslag is bekend gemaak om saam te val met ’n verwagting dat die Europese Unie binnekort planne bekend gaan maak oor die hantering van die kunsmiskrisis. Die staatshoofde van die G20-lande gaan ook na verwagting op 15 en 16 November planne bespreek om kunsmisproduksie te vermeerder.
Luidens die verslag, bekend as “Fertiliser trap”, was die bykomende koste vir kunsmisinvoer na Suid-Afrika in die 2021-’22-boekjaar minstens $700 miljoen (R12,5 miljard). Ethiopië, waar 20 miljoen mense op die oomblik voedselhulp nodig het, moes $384 miljoen (R6,8 miljard) bykomend aan kunsmisinvoer bestee.
Dít terwyl, volgens die verslag, die nege groot kunsmismaatskappye vanjaar op pad is om $57 miljard (R1 014 miljard) wins te maak. Dit is vier keer meer as in 2020 en dubbel die hele BBP van Senegal wat oor die afgelope twee jaar $64 miljoen (R1,1 miljard) meer vir die invoer van kunsmis moes betaal.
Die verslag beklemtoon dat kunsmispryse boere en regerings se begrotings onder ernstige ekonomiese druk plaas en bydra tot voedselinflasie. Daar is ook toenemende kommer oor die invloed daarvan op voedselproduksie.
Alternatiewe
Dr. Sophia Murphy, uitvoerende direkteur van IATP, sê die tyd van goedkoop chemiese kunsmis is iets van die verlede en daar sal planne beraam moet word om eerder verbruik te verminder as om produksie te vermeerder. Sy glo daar moet na organiese alternatiewe en beter boerderypraktyke gekyk word.
Die navorsers glo in baie lande waar kommersieel verbou word, word te veel kunsmis toegedien. Dit kan aansienlik verminder word sonder om opbrenste te beïnvloed. Een studie het glo bevind dat in Duitsland net 61% van kunsmis koringaanplantings bereik en dat 39% vermors word. In Mexiko bereik net 45% van kunsmis die gewasse, in Kanada net 59% en in Australië net 62%, aldus die verslag.
Luidens die verslag het pryse sedert 2020 die hoogte ingeskiet weens die styging in gaspryse, asook die ontwrigting in uitvoer uit lande soos Rusland, Oekraïne en Belarus wat die grootste kunsmisproduserende lande is, en ook winsneming deur sterk kunsmismaatskappye.
Die navorsers sê omdat ’n handjie vol maatskappye die kunsmisbedryf van $200 miljard (R3 559 miljard) beheer, kan hulle stygende koste aan verbruikers oordra en hul winste bly verhoog. Hulle noem dat vier maatskappye, Nutrien, Yara, CF Industries en Mosaic, onder meer ’n derde van alle produksie van kunsmis uit stikstof beheer.
Verlaagde produksie
Die Verenigde Nasies waarsku dat oeste daaronder kan ly as pryse hoog bly. Produksie in Afrika kan met 20% verminder word namate boere minder kunsmis gebruik en aanplantings verminder.
Vir die studie het navorsers gekyk na die groothandelkoste van die vier kunsmisprodukte wat meeste ingevoer word na 18 van die 20 G20-lande. Dit sluit in Argentinië, Australië, Brasilië, Kanada, China, Indië, Indonesië, Japan, Mexiko, Republiek van Korea, Suid-Afrika, Turkye, Brittanje, Amerika en die Europese Unie. Rusland en Saoedi-Arabië is uitgesluit omdat hulle groot kunsmisvervaardigers is en baie min kunsmis invoer.
Die nege kunsmismaatskappye is Nutrien (Kanada), Yara (Noorweë), Mosaic (Amerika), ICL-groep (Israel), CF Industries (Amerika), PhosAgro (Rusland), OCI (Nederland), K+S (Duitsland) en OVP (Marokko).
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.