AFGRI
BEAN
23 Mrt
-
9737,2
-247,80
CORN
23 Mrt
-
4173
-57,00
SOYA
23 Mrt
-
8205
-253,00
SUNS
23 Mrt
-
9050
-270,00
WEAT
23 Mrt
-
6415
-51,00
WMAZ
23 Mrt
-
3800
-64,00
YMAZ
23 Mrt
-
4012
-72,00
AMT
Ave Wool - Non RWS
10 Mrt
-
171,8
0,00
Ave Wool - RWS
10 Mrt
-
185,09
0,00
Beeste A2/3
10 Mrt
-
54,09
-0,11
Beeste AB2/3
10 Mrt
-
52,37
-0,58
Beeste B2/3
10 Mrt
-
49,71
0,11
Beeste C2/3
10 Mrt
-
48,2
-0,33
Bevrore Hoender
10 Mrt
-
33,07
0,10
Bokkies (onder 30 kg)
10 Mrt
-
47,59
-0,54
Bokooie
10 Mrt
-
35,3
-1,14
Groot (meer as 40 kg)
10 Mrt
-
37,88
1,68
Hoender (IQF)
10 Mrt
-
32,24
0,03
Medium (30-40kg)
10 Mrt
-
42,34
-2,27
Pork Average
10 Mrt
-
33,17
1,14
Poultry Average
10 Mrt
-
33,05
0,06
Skaap A2/3
10 Mrt
-
85,28
2,47
Skaap AB2/3
10 Mrt
-
82,03
0,96
Skaap B2/3
10 Mrt
-
66,9
-2,58
Skaap C2/3
10 Mrt
-
63,53
1,95
Speenkalf
10 Mrt
-
33,23
-0,88
Spekvarke
10 Mrt
-
34,32
0,27
Stoorlammers
10 Mrt
-
38,83
-0,15
Varkwors
10 Mrt
-
26,35
0,98
Vars Hoender
10 Mrt
-
33,85
0,06
Vleisvarke
10 Mrt
-
33,05
1,29
Deel

Bonnievale se wonderwerk-skool

akkreditasie
Die splinternuwe skoolgebou wat op die sportvelde uitkyk. FOTO: VERSKAF
Die splinternuwe skoolgebou wat op die sportvelde uitkyk. FOTO: VERSKAF
Met ’n spoggerige nuwe skool waarvoor die gemeenskap grootliks self opgedok het, hoop Bonnievalers om eiewaarde by hul kinders te herstel en ’n gesonde nuwe geslag Suid-Afrikaners te kweek. En daar is geen rede waarom hierdie inspirerende verhaal nie op ander dorpe nagedoen kan word nie.

Wiskunde is sy kos, vertel Jamien Wiese (15), wat in die eerste kwartaal 99% vir dié vak behaal het. “Ek het in graad 7 besluit ek hou van wiskunde, en nou is dit my passie. As ek in ’n wiskundeklas inloop, wil ek net hard werk.”

Jamien Wiese is een van die eerste leerders aan die Tegniese Skool Jakes Gerwel. Dié skrander kind het in die eerste kwartaal 99% vir wiskunde behaal.

Vanjaar het leerders, soos Jamien, se droom om ’n siviele ingenieur te word, ’n groter moontlikheid geraak danksy die splinternuwe Tegniese Skool Jakes Gerwel op Bonnievale. Sonder dié skool sou honderde Bonnievale-kinders nie ’n heenkome by ’n plaaslike hoërskool kon vind nie.

Met ’n gemeenskaplike geloofsvisie het die gemeenskap begin droom oor ’n beter toekoms vir hom en uiteindelik die res van Suid-Afrika. Byna alle Bonnievalers het betrokke geraak by die oprigting van dié “saamwerkskool” waarvoor die gemeenskap bykans R65 miljoen in geld en sweet moes bymekaarmaak.

HOPELOSE SITUASIE

Die toestande op dié landboudorp is nie vreemd of uniek nie. “Ongelukkig is die meeste werkgeleenthede in die landbou seisoenaal en vind daar ook nie baie toegevoegde waarde in die landbou plaas nie. Hier is ’n kaasfabriek en enkele kelders in die omgewing, maar dit is nie groot werkskeppers nie,” vertel mnr. Philip Jonker wat op die Weltevrede-wynlandgoed boer en een van die trustees van die JGE-finansieringstrust is.

“Die meeste van die sowat 11 000 mense wat op Bonnievale woon, is dus in ’n mate in ’n oorlewingstryd gewikkel en afhanklik van staatstoelaes.”

Die prentjie raak donkerder, want saam met armoede kruip talle ander maatskaplike probleme by die deur in, soos tienerswangerskappe en die verval van familiestrukture.

“Kinders wat op die platteland grootword, het ál die potensiaal as hulle vier, vyf jaar oud is. Die ogies blink en die glimlag kom vinnig. Maar as hulle sewe, agt jaar oud raak, begin hul eiewaarde daal weens hul omstandighede. Dan begin die verval. Daar is geen motivering om hard te werk in die laerskool nie, want hulle het geen vooruitsigte nie. Hulle weet nie waarheen hulle op pad is nie,” sê Philip.

Vir mnr. Wilhelm de Wet, ’n aktuaris op die dorp, het die lig aangegaan toe hy besef het die enigste plaaslike hoërskool het net 350 skoolbanke, terwyl die laerskole gewys het daar is sowat 1 500 kinders wat vanjaar moes hoërskool toe gaan.

“Ons kinders sou elders ’n heenkome moes vind. Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) voorsien wel busse, maar die omstandighede is moeilik en die kinders het nie altyd die motivering om die bus te haal nie. Kort voor lank hou hy of sy op skoolgaan.

“Statistiek wys ses uit elke tien kinders wat graad 10 begin, slaag nie graad 12 nie. Hy word geweeg en te lig bevind deur die stelsel. Toe ons besef dís die getalle en die hopelose situasie waarin kinders hulle bevind, het dit werklik ons harte aangegryp.”

Wilhelm, wat ook dien as voorsitter van die beheerliggaam by die Hoërskool Bonnievale, sê elke jaar loop die spanning hoog oor wie toegelaat word en wie nie. “Dit sou nie help om tien klaskamers aan te bou nie, want as daar ’n behoefte vir 1 500 kinders is, plak jy met ekstra klaskamers net pleisters op die wond. Jy genees dit nie.”

VAT HANDE

Pleks van om anderpad te kyk en te sê “iemand” moet iets doen, het hierdie Bonnievalers besluit húlle gaan die “iemand” wees. Maar by die WKOD moes hulle in 2016 hoor daar is nie begroot vir ’n nuwe skool in Bonnievale nie en dit sal waarskynlik jare duur voor geld daarvoor beskikbaar gestel word.

’n Private skool was ook nie ’n opsie nie. Die enigste oplossing was ’n saamwerkskool.

Die WKOD het gesê as die gemeenskap grond in die hande kon kry, 60% van die koste kon dra om die skool op te rig én die departement kon oortuig dat die gemeenskap die skool steun, sou hy 40% van die boukoste dra en help om onderwysers aan te stel volgens die norme en standaarde van ’n gewone staatskool.

Die nuwe rugbyveld met netbal- en tennisbane daarnaas (waar die motors op die foto geparkeer staan).

Saam met Philip en Wilhelm is mnr. Curren Kühn, ’n elektriese en elektroniese ingenieur, as trustee van die JGE-finansieringstrust aangestel. Sonder om te huiwer, maar ook sonder om te weet hoe hulle dit gaan regkry, het hulle ingestem.

“Ons het ’n week lank daaroor gebid en gedink en ’n paar somme gemaak. Ons het besef dit gaan ’n hele paar miljoen kos, maar ons moes vinnig besluite neem sodat die skool betyds kon oopmaak vir die 2018-skooljaar. Ons het ons handtekeninge op papier gesit vir meer as R50 miljoen – uiteindelik was dit R65 miljoen – wat ons privaat bymekaar moes maak.”

Philip het 12 ha van hul familieplaas eenkant gesit. Wilhelm en sy vrou, Helena, het die helfte daarvan gekoop en aan die projek geskenk. Die oorblywende 6 ha het die Weltrevrede-wynlandgoed deur ’n 99 jaar-huurooreenkoms beskikbaar gemaak.

“Mense het gesê ons is totaal gek, maar ons het net gesê: ‘Yes, let’s do it!’ Die eintlike wonder van die storie is dat onbekwame mense gebruik word, want bekwame mense sou té realisties gewees het oor wat die projek vereis. Ons kort byvoorbeeld nog R7 miljoen kontant oor die volgende drie maande en bid hard vir die uitkoms,” vertel Philip.

Wilhelm voeg by: “Die pad wat ek, Curren en Philip met die Here stap, is die basis van alles. Niks maak sin as jy dit nie deur hierdie lens bekyk nie. Ons sou ook nie soveel hier kon inploeg as ons nie die ondersteuning van ons gesinne en die fondasie van gelukkige huwelike gehad het nie.”

GEMEENSKAP SPRING IN

Hulle het ’n tussentydse beheerliggaam met 15 lede saamgestel wat baie sakke sout saam moes opeet. “Ons verteenwoordig al die kleure van die reënboog en die geografiese gebiede van Bonnievale, het mekaar nie goed geken nie en was ook nie gewoond daaraan om saam te werk nie, maar ons het soos een gesin geword.

“Ons gemene deler was die geestelike geloofspad wat ons stap, want ons doen dit nie vir mense nie. Almal moes glo in God wat die onmoontlike kan doen met die begroting, die proses, die tydraamwerk en selfs eenheid. Dit is alles dinge wat nie binne ons eie vermoë was nie. Maar die skool behoort nou aan die hele gemeenskap,” vertel Philip.

Tydens gemeenskapsdae kon Bonnievalers help om klippies op die sportvelde op te tel. Geen bydrae was te gering of poging te beskeie om te help om die nuwe skool op die been te bring nie. FOTO: VERSKAF

Hulle het gemeenskapsdae gereël – al was dit net sodat mense klippies op die sportvelde kon help optel – sodat hulle hul visie kon oordra en seker maak almal is deel van die hele prentjie. “Ons moes R50 miljoen bymekaarskraap wat nie noodwendig in kontant kon wees nie!”

Wilhelm het bly glo hulle sal die geld in die gemeenskap kon insamel, ten spyte van die droogte. “Ons het aan elkeen gevra: ‘Wat is in jou hand? Doen net wat vir jou uitgemeet is, byna soos Nehemia se muur.’ Party het geld gegee en ander kon tyd, sweet, kundigheid of toerusting gee.”

Verskeie instellings was bereid om gratis te werk of toerusting te skenk vir die skoolprojek.

Mense kon ’n enkele baksteen teen net R2,50 skenk. ’n Plaaslike argitek, meganiese en elektriese ingenieurs, ’n landmeter en ’n grondverskuiwingsmaatskappy het gratis gewerk of toerusting verniet verskaf om die skool te bou. Die vallei se boere het duisende liter brandstof geskenk.

Volgens me. Kubeshini Govender, hoofopvoedingspesialis vir spesiale projekte by die WKOD, is dit ’n wen-wen-situasie.

“Nasiebou gaan voort in Bonnievale, want dis nie meer ‘ons’ en ‘hulle’, ‘boere’ en ‘werknemers’ of selfs ‘private sektor’ en ‘openbare sektor’ nie. Almal het hande gevat. Dis ’n model vir die res van die land. As ons nie opvoeding gaan bevorder nie, sal die land nie vorentoe gaan nie.”

’N MOOI SKOOL

Vanuit die staanspoor wou die trustees hê dit moes ’n besonderse skool wees. Die terrein is op verskillende vlakke uitgelê, die klaskamers en werkswinkels is spoggerig en tegnologies gevorderd en die skool is omring deur wingerde en netjiese sportvelde.

“Ons het besef die visie is groter as net ’n skool. Dit gaan daaroor om die gemeenskap te genees, beginnende by die herstel van eiewaarde. As jy soos ’n niks voel, respekteer jy nie ander mense en dinge nie, en dan begin die wiele afval. Ons het dus besluit om met klein goedjies, soos skoolklere, mense dadelik te laat trots voel.”

Kubeshini sê infrastruktuur is ’n belangrike hulpmiddel om mense beter te laat voel oor hulself. “Om in ’n mooi gebou met die beste tegnologie te leer, help om kinders te laat voel hulle is waardig.”

Die Tegniese Skool Jakes Gerwel is ’n voldagskool, wat beteken kinders bly ná skoolure aan tot 16:45 vir studietyd, sport en karakterbousessies.

TEGNIESE AANSLAG

Die skool is eintlik soos twee skole in een: ’n Hoofstroomskool met tegniese vakke en ’n vaardigheidsbeen wat meer beroepsgerig is.

“Suid-Afrika het baie kinders wat nadat hulle matriek geslaag het of selfs universiteitsgrade verkry het, by die huis sit sonder enige drome. Hulle het akademiese vakke, terwyl daar eintlik ’n behoefte aan ambagte en indiensopleiding is,” sê Wilhelm.

Vir kinders, soos Jamien, wat ingenieurswese wil studeer, is dit nie ’n probleem om tegniese wiskunde en fisiese wetenskap, wat vereistes vir ’n hoofstroom-tegniese skool is, deur te kom nie. Vir ander kinders is die vaardigheidsbeen egter ’n beter keuse.

Hier kry hulle oor vier jaar ’n NQF1-kwalifikasie in ’n ambag van hul keuse, byvoorbeeld as sweiser of loodgieter, in die bou- of gasvryheidsbedryf of in vroeë kindontwikkeling.

Altesaam 240 leerders bring sedert die begin van die jaar hul tyd in spoggerige skoolklere en tegnologies gevorderde klaskamers by die Tegniese Skool Jakes Gerwel deur.

“Hulle bestee 50% van hul tyd aan praktiese onderrig en is hoogs indiensneembaar as hulle klaar is met skool.”

Daaroor sê Kubeshini: “Dit berei die kinders voor om die ekonomie en korporatiewe wêreld te betree. Ons lê te veel klem op universiteitsopleiding, en as ’n gevolg daarvan het ons ’n tekort aan vaardighede.”

Philip beklemtoon weer dat hul daarop konsentreer om kinders se eiewaarde te herstel. “Ons wil ’n kultuur skep dat almal belangrik is en waarde het. Kinders moet weet hulle gaan mekaar in die lewe nodig hê en hul sterkpunte gaan ander se swakhede aanvul.”

Dit is ’n duur skool om te bestuur – veral op die vlak wat Philip, Curren en Wilhelm in gedagte het – en as skool wat nie gelde hef nie, sal hulle self moet geld genereer.

Leerders kry ontbyt en middagete by die skool (wat deur die gasvryheidsleerders voorberei word). Dit vorm deel van die Wes-Kaapse departement van onderwys se voedingskema, maar word ruim aangevul deur vrygewige boere wat gereeld plaasprodukte kom aflaai.

“Dit is nog ’n rede waarom ons ’n entrepreneurskultuur hier wil skep.”

Tans is daar elf klaskamers, twee rekenaarlokale en twee ingenieurs-, grafika- en ontwerplokale. Die volgende fases vorder fluks, en sluit onder meer nog tien klaskamers, ses tegniese werkswinkels, drie verbruikerstudielokale, vier tennis- of netbalbane en aantrekkamers in. Ons loer by Jamien se klas in.

“Ek is baie, baie trots om hier te kan skoolgaan en ek weet ek is bevoorreg om die geleentheid te kry. My oupa het gesê ek moet na hierdie skool toe kom. Daar is nie ander tegniese skole in die omgewing nie en dis hoekom daar so baie werkloosheid in die land is, want mense kry nie tegniese opleiding nie,” vertel hy.

“Ek waardeer dit ook dat ons mentors ons aanmoedig om vir onsself doelwitte te stel. Myne was om verlede kwartaal 85% gemiddeld te behaal, en ek is dankbaar om te sê ek het dit bereik.”

Volgens Kubeshini moes hulle gaan kyk hoe hulle saamwerkskole binne die wetgewing kon laat pas, want dit is ’n model wat enige plek gedupliseer kan word.

“As ons saamwerk, kan ons die gety omkeer en leerders die geleentheid gee om te presteer. Wie weet, dalk kom daar ’n bekende rugbyspeler of die volgende Elon Musk uit hierdie gemeenskap . . .”

‘Ons het vir elkeen gevra: “Wat is in jou hand? Doen net wat vir jou uitgemeet is, byna soos Nehemia se muur.” ’

’N GELOOFSAAK

Begin 2016 het ’n paar Bonnievalers aan die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) se deur geklop om nog ’n hoërskool op Bonnievale te open. Dit het uiteindelik gelei tot ’n saamwerkskool waar die gemeenskap 60% van die kapitaal gee en die WKOD die res.

Die JGE-finansieringstrust is in die lewe geroep, met drie Bonnievalers as trustees aan die stuur van die projek: mnre. Wilhelm de Wet, ’n aktuaris, Curren Kühn, ’n elektriese ingenieur, en Philip Jonker, ’n wynboer.

Van die begin af het hulle teen tyd gewerk om in Januarie vanjaar die skool se deure te open. Die kar moes soms noodgedwonge voor die perde ingespan word.

“Ons het die grootste deel van daardie eerste maande in gebed deurgebring vir helderheid van die visie. Die uitlegte en argiteksplanne is ook opgetrek,” vertel Philip.

“Tydens die tweede helfte van die jaar het ons wyd in die Bonnievale-gemeenskap gekonsulteer sodat mense uit alle oorde saam kon vorm gee aan die eindproduk. Ons het ’n tussentydse skoolbeheerliggaam met 15 lede gevorm.”

In November het Môreson, ’n grondverskuiwingsonderneming op Robertson, aangebied om die sowat 12 ha wingerde uit te haal en meer as 25 000 m3 se grondvoorbereidingswerk te doen. Die hoofsportveld en atletiekbaan is geskep.

Teen die tweede kwartaal van verlede jaar moes ’n skoolhoof aangestel word. “Ek het uit ongeloof ’n paar slegte woorde oor my lippe laat glip, want wie gaan nou aansoek doen by ’n skool wat nog nie bestaan nie?” vertel Philip.

Van links agter is mnre. Albert Mocke, skoolhoof, Philip Jonker en Wilhelm de Wet saam met me. Kubeshini Govender.

“Ons het egter goeie aansoeke gekry en Albert Mocke, skoolhoof, en Steven Cupido, departemensthoof, aangestel. Hulle het by hul vorige skole bedank, huise opgepak in Bloemfontein en die Kaap en hierheen getrek — en ons het nog nie eens goedkeuring gehad om te bou nie!”

Voor ’n enkele baksteen nog gelê is, het 160 leerders al by die nuwe skool ingeskryf.

Die volgende stap was om ouers te oortuig om hul kinders by die skool (wat steeds nie bestaan het nie) in te skryf. “Die feit dat ons teen Junie 160 inskrywings gehad het, terwyl hier nog nie ’n baksteen gelê is nie, wys hoe desperaat die mense was,” sê Wilhelm.

In Junie (die week van Jeugdag) het hulle begin bou, en minder as ses maande later is die eerste fase van die skool geopen. In Januarie vanjaar het 240 leerders, netjies uitgevat in splinternuwe skoolklere, hul plekke op die Tegniese Skool Jakes Gerwel se banke ingeneem.

“Ons is aangespoor deur ‘n Godgegewe visie en ons liefde vir die kinders in ons gemeenskap. Ons het gesien hoe die wonders die een ná die ander plaasvind en hoe die onmoontlike gebeur, ten spyte van al die struikelblokke,” sê Wilhelm.

NAVRAE: Webwerf: www.jgt.co.za; mnr. Wilhelm de Wet, e-pos: Wilhelm@sa3.co.za
Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.
Teken in
heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Smalls

Besoek ons nuwe webwerf vir geklassifiseerde advertensies en plaas jou advertensie in LBW én aanlyn. Vind ook vinnig en maklik die produk waarna jy soek!

Sien meer
Rand - Dollar
18.17
+0.7%
Rand - Pond
22.43
+0.0%
Rand - Euro
19.85
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.25
-0.2%
Rand - Jen
0.14
+0.3%
Platinum
985.30
+1.3%
Palladium
1,443.38
+0.1%
Goud
1,977.82
+0.4%
Silwer
22.97
-0.1%
Brent-ruolie
76.69
+1.8%
Top-40
70,076
+0.5%
Alle aandele
75,564
+0.4%
Hulpbronne 10
65,881
+0.2%
Industriële 25
102,452
+0.8%
Finansiële 15
15,312
+0.2%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Besoek ons winkel!

Besoek die LBW-winkel en koop verskillende produkte soos boeke, tydskrifte, klere en meer.

Besoek LBW-winkel
Opsitkers
Wil jou lewe vereik
Ek stel belang in haar lewe. Ek het baie baie liefde Om te gee. Bereid Om by haar aan te pas en te leer
Nie net n goeie mamma,Kan n goeie vriendin ook wees
Want Ek is opregte mense. Het baie seer gekry. Ek is reguit mens. Ek is Altyd vriendelik en gee my Al's. Ek Hou daar van Om Saam mense te lag en sports te Kan hê. Ek Kyk...
Vind jou perfekte maat nou!
Ek is 'n:
Op soek na:
Ouderdomsgroep: tot