Die pandemie het aanlyn verkope van kos en drank met vyf jaar versnel, meen mnr. Justin Drennan, uitvoerende hoof van Parcelninja, ’n maatskappy wat spesialiseer in pakhuise en logistiek.
Volgens mnr. Norman Reyneke, direkteur van kleinhandel, verkope en kopers by die Kantar-groep, was dit ’n onderliggende neiging wat vanweë die virus ontplof het. Kantar is ’n konsultasiemaatskappy met sy hoofkantoor in Londen. “OneCart (’n Suid-Afrikaanse kruideniersafleweringsdiens) se verkoopsvolumes het sedert Covid-19 met 700% toegeneem,” het hy tydens ’n webinaar van die varsproduktebemarkingsvereniging PMA gesê.
Kantar het onlangs ’n Covid-19-barometerstudie onderneem om te bepaal hoe die pandemie verbruikers se gedrag, houding en verwagtings beïnvloed. Die studie is in 50 lande en onder 45 000 verbruikers gedoen. Reyneke kon daaruit die afleiding maak dat die kleinhandelsfeer heeltyds op sy kop gekeer is. “Elke dag is anders, want verbruikers reageer in werklike tyd. Met nuwe inperkingsregulasies wat gedurig geld, verander verbruikers se sienings voortdurend.”