Heelwat navorsing oor die bruinsprinkaan en sy rol in die ekologie is nog nodig. Was die kool die sous werd van die bestrydingskoste van R50 miljoen in 1986 – 17 keer meer as die inkomste van die skaapplase?
Dr. Joh R. Henschel, verbonde aan die ariede-grond-nodus van die Suid-Afrikaanse aardwaarnemingsnetwerk en die sentrum vir omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat, verduidelik hoe ingewikkeld die sprinkaankwessie werklik is.
Ons weet nog nie genoeg van hierdie superherbivoor, wat saam met die Nama-Karoo ontwikkel het, om die vraag te kan beantwoord nie. Hopelik sal navorsing ons in staat stel om binnekort ’n goeie voorspelling te waag. Wat ons wel weet, is dat die bruinsprinkaan al jare lank in sy alleenlewende fase is.