Nederland is ’n land met 4 miljoen beeste, 13 miljoen varke, 104 miljoen hoenders en 17 miljoen mense. Hierdie lewende wesens leef op 41 000 km², waarvan 17% van die see herwin is en 20% steeds onder water is.
In die wêreld tel dit as een van die digsbevolkte lande – nie net ten opsigte van mense nie, maar ook ten opsigte van lewende hawe. Hierdie betreklik klein land is ook die grootste uitvoerder van vleisprodukte in Europa.
Dié oorvloedigheid kom egter teen ’n prys. Die gepaardgaande intensiewe boerderypraktyke, veral dié van lewende hawe, lei tot skadelike besoedeling, hoofsaaklik omdat die diere se mis ’n afvalproduk is wat ’n probleem skep.