Volgens mnr. John Lapersonne, bestuurder van die Lapersonne-wolmakelaars, is die droogte die hoofoorsaak van die kleiner aanbod van Suid-Afrikaanse wol dié seisoen, aangesien boere hul kuddes moet verminder om te kan oorleef. Hy voeg by dat die droogte dus ook ’n mediumtermyn-effek op die lewering van wol sal hê.
Volgens mnr. Paul Lynch van Standard Wool SA en direkteur by Cape Wools, het Suid-Afrika tans ook nie toegang tot Lesotho se wol nie, aangesien die regering daarop aandring dat vesel in Lesotho self bemark en verkoop moet word. Dit is nog ’n rede waarom die eerste veiling vir Februarie afgelas is. “Dit is jammer dat die situasie tans vir politieke doeleindes uitgebuit word. Lesotho se wol het oor die afgelope 5 tot 10 jaar drasties verbeter. Suid-Afrikaanse maatskappye het die moeite gedoen om Lesotho se vesel op die internasionale mark te bevorder, en nou is dit weggeneem. Dit is baie jammer vir die boere.”
Die Cape Wools-aanwyser het tydens die veiling van 30 Januarie gesluit op R215,16/kg vir skoon wol. Volgens Cape Wools was die aanbod van goeie wol baie klein, en die totale aanbod 5 700 bale. Die volgende veiling is op 13 Februarie. Volgens Lapersonne het die pryse nou gestabiliseer ná die hoë vlakke wat aan die begin van die 2018-’19-seisoen behaal is.