Hy huil in die veld oor die veld, het ’n boer van Laingsburg iewers verlede jaar opgemerk, net soos iemand wat by die graf van ’n geliefde gaan treur. Dis nie net hy wat bedroef is oor ekologiese agteruitgang vanweë klimaatsverandering en menslike bedrywighede nie.
Daar is deesdae begrippe soos “solastalgie” (geestelike angs weens veranderinge aan die omgewing) of “klimaathartseer” oor wat die mensdom verloor het of besig is om te verloor. Tog kan die herstel- of troosproses op die toneel van die verlies begin. Baie mense weet dit reeds, maar die goeie nuus is dat al hoe meer medici en sielkundiges vind die natuur kan soos medisyne wees. Mense se gemoedstoestand kan verbeter as hulle by ekologiese rehabilitasieprojekte betrokke raak.
Dié bevinding is ook nie eens meer net teorie nie. Op Prins Albert in die Wes-Kaap is proff. Sue Milton en Richard Dean, eienaars van Renu-Karoo Veld Restoration, ’n veldrehabilitasie-onderneming op dié dorp, en me. Hélène Smit, ’n berader, besig om dit prakties te ondersoek.