
Elke Suid-Afrikaanse besigheid sal beïnvloed word deur die komende nuwe wysigings aan die B-BBEE-maatreëls (Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging) asook die nuwe kodes van goeie praktyk.
Die voordele van nakoming is net so groot as die risiko van nie-nakoming. Neem advies indien jy enigsins twyfel, skryf mnr. Butch van Blerk, ‘n regsleerde van Bellville, Kaasptad, in ‘n nuusbrief.
Volgens Van Blerk is die omsetdrempel as volg opwaarts aangepas:
Vrygestelde mikro-ondernemings: Die jaarlikse omsetdrempel vir VMO’s het verdubbel vanaf R5 miljoen tot R10 miljoen. Jy moet jaarliks jou vlak van swart eienaarskap en jaarlikse inkomste bevestig deur middel van ‘n beëdigde verklaring. Indien jy kwalifiseer word jy outomaties geag ‘n Vlak 4 bydraer (100% erkenning vlak) te wees. Jy sal opskuif na Vlak 2, indien jy 51% in swart besit is en na Vlak 1 (die hoogste vlak) indien jy 100% in swart besit is.
Hy skryf voorts dat vanaf 11 Oktober 2013 is daar ‘n 12 maande-oorgangstydperk waartydens jy kan kies om gemeet te word aan die vorige (2007) generiese telkaart of om gemeet te word aan die nuwe kode. Die nuwe kodes is baie omvattend en gedetailleerd – so verkry eerder kundige advies hieroor.
Die tersaaklike handves per sektor (tans ook in werking vir die landbou) sal steeds van toepassing wees, maar sal gedurende die oorgangstydperk in lyn met die nuwe kodes gebring moet word.
Daar is wysigings aan die B-BBEE-Wet wat tans nog deur die wetgewende prosesse beweeg. Hierdie wysigings maak voorsiening vir beduidende boetes vir wanvoorstellings van bemagtiging: ‘n Boete van tot 10% van die jaarlikse omset kan teen besighede opgelê word, en enigiemand wat betrokke is by so ‘n wanvoorstelling van die B-BBEE status (of van inligting ten einde so ‘n status te verseker), loop die gevaar van kriminele vervolging en van tot 10 jaar gevangenisstraf by skuldigbevinding.
Klik hier om die volledige nuusbrief te lees.
* Van Blerk hanteer ook alle navrae oor die reg op Landbou.com