Plaaslik voer vrugteboere ’n stryd teen beurtkrag, maar intussen maak hulle gereed vir ’n nuwe stryd, dié keer om hul uitvoerposisie te beskerm.
“Omdat Suid-Afrika se uitvoeropsies vir landbouprodukte tans te beperk is, het ons feitlik geen ander keuse nie as om ons toegang tot die Europese Unie (EU) te probeer beskerm. Dus sal Suid-Afrika sy vermoëns moet opskerp om aan die EU se verwagte nuwe Farm-to-Fork-vereistes te voldoen,” sê mnr. Wolfe Braude, hoofbestuurder van Agbiz se vrugte-afdeling.
Die Farm-to-Fork-strategie (F2F) vorm deel van die EU se sogenoemde Green Deal, sy ambisieuse plan om teen 2050 klimaatneutraal te wees. Dié plan en strategie wat reeds in 2020 aangekondig is, het in 2022 effens vasgeval weens die globale voedselkrisis.