Die landbou se beeld moet gunstig oorgedra word, glo Graan SA se Boer van die Jaar, mnr. André (Oubaas) Brink van Groot Phesantekraal naby Durbanville.
“Veral nou in Suid-Afrika, waar daar soveel pessimisme is. Die landbou is tog wat die land aan die gang hou,” sê die gawe man met die priemende blou oë. Ons sit in sy kantoor in ’n buitegebou op die historiese werf van Groot Phesantekraal, wat al in 1698 aan Olof Bergh toegeken is.
Dit het daarna aan die Louw-familie behoort voor Brink se transportryer-grootjie, Arend, die plaas in 1897 bekom het. Brink se seuns, Jeandré en Rennie, is die vyfde geslag Brinks wat hier boer.