
Enigeen kan meet of tel, maar die kuns is om te weet wat jy met die resultate moet dóén. Só sê me. Sheila Storey, eienaar van die grondtoetslaboratorium Nemlab in die Paarl en een van Suid-Afrika se gerekende aalwurmkundiges.
Sy het die laboratorium in 1987 begin en aanvanklik grootliks op grondtoetse vir aalwurm gekonsentreer. Mettertyd het sy al hoe meer in grondgesondheid begin belang stel, spesifiek in die rol wat voordelige aalwurms in grondgesondheid speel.
Die mikrobetoets wat Nemlab bied, is ’n aalwurmgrondgesondheidstoets, en gee ’n aanduiding van die mikrobiese aktiwiteit en diversiteit in die verskillende trofiese vlakke van die grondvoedselketting wat deur aalwurms as voedselbron benut word. Dit gee ook ’n aanduiding van die uitwerking van verskillende insette op die mikrobediversiteit in die grond oor tyd.
Landbouweekblad het haar uitgevra oor die klaarblyklike tekort aan bruikbare en bekostigbare Suid-Afrikaanse grondontledings wat ’n behoorlike aanduiding van die samestelling en gehalte van die biologiese komponent van ’n grondmonster kan gee.
“Dit gaan nie oor meet om te weet nie, maar meet om te bestuur,” sê Storey. “Jy kan toets om te tel hoeveel lewende organismes daar is, maar dan moet jy steeds vasstel wat die verhouding tussen die bakterieë en swamme is. Daar is dalk baie organismes in die grond, maar dit help niks as die ontleding nie vir jou kan wys hoeveel is aktief nie.”
Die probleem is dat DNS-ontledings wat die lewende organismes tot op spesievlak bepaal, baie duur is en nie vir boere ekonomies sin maak nie. Nog ’n opsie is die fosfolipied-vetsuurontleding, die sogenaamde PLFA-toets, wat mikrobiese verskeidenheid meet. Dit is heelwat goedkoper as DNS-kodering en gee ’n goeie aanduiding van die grondbiologie.
Mnr. Willie Pretorius van die onderneming Soil Health Solutions in Klapmuts bied hierdie diens. Sy grondontledings gee ook ’n aanduiding van die grond se aggregaatstabiliteit.
Dr. André Nel, onafhanklike grondkundige, verduidelik dat aggregaatvorming, oftewel grondtekstuur, een van die eerste veranderings is wat grond ondergaan wanneer na bewaringslandboupraktyke omgeskakel word.
Aggregate is ’n groep gronddeeltjies wat sterker aan mekaar gebind is as die omliggende gronddeeltjies. Dit verhoog onder meer grond se waterhouvermoë, en sorg vir openinge tussen gronddeeltjies waardeur water en lug kan vloei, en wortels maklik kan groei. Sodra daar meer oesreste en lewende wortels in die grond is om mikrobiese aktiwiteit te stimuleer, dra dit tot aggregaatvorming by.
’n Aggregaattoets is dus ’n goeie aanduiding van die grond se mikrobiese aktiwiteit, want hierdie openinge dien as habitat vir die mikrobes. As die aggregaatsyfer in só ’n ontleding bokant 60% is, is dit uitstekend. Van 45% tot 60% is dit goed, en van 30% tot 45% gemiddeld.
BIOLOGIESE ONTLEDINGS
In ’n onlangse tegniese nota oor wat die gestandaardiseerde aanwysers van grondgesondheid behoort te wees, benadruk die Amerikaanse departement van landbou dat grond beskou moet word as ’n lewende ekostelsel wat asemhaal.
“Grondbiologie was nog altyd ’n integrale deel van die wetenskaplike poging om die begrip en meting van grondeienskappe te verstaan. Die afgelope vier dekades is laborato- riummetodes ontwikkel en verfyn waarmee die biologiese en fisieke status van gesonde grond bestudeer en gekwantifiseer kan word. Anders as die chemiese metodes wat algemeen (vir boere) beskikbaar is om die stand van voedingstowwe in die grond te meet, het biologiese en fisieke metodes grootliks binne die wetenskaplike omgewing gebly,” sê Storey.
Die skrywers van die nota benadruk dat tradisionele grondtoetse wat net die chemiese komponent ontleed, nie meer voldoende is nie.
“Ons moet verby die chemiese bena- dering beweeg na ’n meer komplekse beskou- ing van fisieke, chemiese en biologiese eien- skappe wat grond nodig het om te funk- sioneer, en die wisselwerking tussen hulle.”
Die Haney-toets
Dr. Hendrik Smith, bewaringslandbou- koördineerder by Graan SA, sê daar is inder- daad niemand in Suid-Afrika wat die Haney-grondgesondheidstoets, wat Amerikaanse boere ál meer gebruik, op ’n roetinegrondslag doen nie.
Daar is ook ’n tekort aan PLFA-ontledingsdienste. Daarom word die meeste grondmonsters van Suid-Afrika steeds na oorwegend Amerikaanse laboratoriums vir ontleding gestuur.
“DNS-toetse raak al meer algemeen hier, maar dit is duur en moeilik om te ontleed,” sê hy.
Die Haney-toets ontleed die chemiese én biologiese komponente van ’n grondmonster. Dit meet onder meer die wateroplosbare organiese koolstof in ’n grondmonster, asook hoe aktief die grondlewe is. Voorts meet dit die totale hoeveelheid stikstof in jou grond van anorganiese en organiese bronne, en die hoeveelheid anorganiese stikstof wat vir plantopname beskikbaar is.
Die hoeveelheid organiese stikstof wat in die grond is, en maklik deur grondmikrobes afgebreek en vir plantopname beskikbaar gestel behoort te word, word dan bereken deur die hoeveelheid anorganiese stikstof van die totale hoeveelheid stikstof af te trek.
Die vlak van organiese materiaal in ’n stuk grond behoort bokant die kritieke vlak van 1,5% tot 2% in die wortelsone gehandhaaf te word om die grond in staat te stel om sy noodsaaklike funksies te verrig, wys navorsing. Die grondmonster se fosfaatinhoud word op dieselfde manier ontleed.
Op grond daarvan word ’n aanbeveling aan die boer gedoen oor hoeveel bykomende stikstof en fosfate hy moet toedien om ’n goeie oes te produseer.
’n Bekostigbare middeweg kan die Amerikaanse maatskappy Solvita se SLAN-toets wees. Daarmee kan organiese stikstofreserwes in die vorm van peulgewasbinding en bemestingstoedienings voorspel word.
Die Solvita-toets, wat Soil Health Solutions bied, meet die hoeveelheid koolstofdioksied wat in 24 uur vanaf grondmikrobes uit ’n grondmonster vrygestel word, nadat die grond uitgedroog en weer natgemaak is.
Hierdie aanduiding van mikrobiese aktiwiteit is hoogs verwant aan die vrugbaarheid van jou grond. Pretorius se prys vir die gekombineerde Haney- en SLAN-toetse, saam met ’n aggregaat-stabiliteitstoets, is R1 200. ’n PLFA-toets kos R890.
IS TOETS DIE GELD WERD?
Dit bly egter vir boere moeilik om al hier- die toetse se resultate in ’n verslag te interpreteer en te besluit of dit die koste werd is.
Mnr. Thomas Strydom, onafhanklike grond-en-gewaskonsultant, sê daar is baie verskille en probleme in grond, en boere verstaan dit nie altyd nie. Hulle bewerk en bemes die grond soos wat hul bure dit doen en voorgeslagte gedoen het.
Deur eerder goeie inligting oor hul spesifieke grondsituasie in te win, kan hulle minder foute maak en minder skoolgeld betaal. Hierdie inligting kan deur onder meer grondtoetse, profielontledings en grondvoglesings bekom word. Dit bly egter ’n balanseertoertjie tussen insette en opbrengste om seker te maak dit bly bekostigbaar.
Mnr. Cobus Burger van die internasionale maatskappy SGS, wat die plaaslike NviroCrop oorgeneem het, sê wanneer verskillende spesies mikro-organismes ontleed word, is norme nodig om te verstaan wat die voor- en nadele is van dit wat ontleed is.
“Om sulke ontledings vir ’n landboukundige te gee en aanbevelings te soek, is nie die oplossing om grondgesondheid te verstaan en te verbeter nie. Daar is nie sulke norme vir detailontledings beskikbaar nie. Hoekom dus daardie roete volg?”
SGS se grondlaboratorium het pas ’n nuwe afdeling gestig wat grondlewe meet deur te kyk hoeveel mikrobiese bedrywighede daar in die grond is, sê hy.
“Ons streef almal na ’n balans tussen byvoorbeeld aalwurms, bakterieë en swamme, maar hoe meet ons dit, indien moontlik, en vind ’n praktiese manier om dit te herstel? Ons weet hoe meer koolstof in die grond is, hoe aktiewer behoort die mikro-organismes te wees, want mikrobes voed op koolstof. Die organismes moet aktief wees, en nie byvoorbeeld doodgemaak wees deur gifstowwe of soortgelyke praktyke nie.
“Ons kan grondlewe ontleed deur mikrobe- bedrywighede, totale koolstof en organiese en anorganiese stikstofvlakke in berekening te bring. Dan het ons al baie goeie inligting waardeur die boer kan bepaal of sy bewerkingspraktyke voordelig is of nie, en hy kan die uitwerking daarvan op sy grondlewe evalueer,” sê Burger.
Standaard-chemiese ontledings, sê hy, soos wat pH en die balans tussen natrium, kalsium en magnesium weergee, het ’n regstreekse uitwerking op die balans tussen mikrobes én die deurlugting van bogrond, wat weer regstreeks suurstofvlakke bepaal. ’n Neutrale pH is uiteraard die beste om ’n beter balans tussen byvoorbeeld swamme en bakterieë te verseker.
5 kategorieë vir grondontledings
Mnr. Graeme Sait, Australiese grondgesond-heidspesialis, onderskei vyf belangrike kategorieë wat gebruik kan word om ’n grondontleding te interpreteer. Hy glo in chemiese balansering van grond wat met biologiese aktivering gepaardgaan.
Sy onderneming, Nutri-Tech Solutions (NTS), doen ook grondontledings en lewer ’n Soil Therapy-verslag aan boere, met tellings vir onder meer die volgende:
Katioon-uitruilvermoë
In internasionale spreektaal word dit CEC genoem, na aanleiding van die Engelse naam.
Dit lewer ’n onmiddellike riglyn oor jou grond se vermoë om voedingstowwe en vog op te berg. Ligte sandgrond se CEC kan vanaf 3 wees, en dié van swaar kleigrond tot 60.
Dié toets meet die kleikomponent van die grond en kan ’n goeie aanduiding wees van wat ’n geskikte bemestingstrategie behoort te wees. Dit kan byvoorbeeld aandui dat ligte sandgrond eerder bietjie vir bietjie in die groeityd bemes moet word omdat dit nie in staat is om voedingstowwe en vog so goed vas te hou nie.
Totale uitruilvermoë
Die algemene internasionele begrip is TEC. Sait sê ’n goeie grondtoets moet altyd ’n TEC-lesing insluit. In dié meting word die persentasie waterstof, ’n element wat nie ’n voedingstof is nie, ook in berekening gebring. As dit nie gedoen word nie, sê hy, kan die relatiewe persentasie van die ander belangrike katione (basisversadiging) ’n misleidende telling oplewer.
Basisversadiging is ’n aanduiding van die persentasie van die belangrikste katione wat “versadig” is, oftewel aan ’n kleideeltjie gebind is.
“As jy nie waterstof in berekening bring nie, kan jy verkeerdelik onder die indruk wees dat jou katioonbalans voldoende is, terwyl die helfte van die kleideeltjies eintlik aan waterstof gebind kan wees, ’n element wat nie voed nie en versurend is. Daar is dus baie minder kalsium, magnesium en kalium in daardie grond as wat die CEC-telling wys. Jou CEC lyk dalk reg, maar jy het eintlik ’n leë brandstoftenk. Sonder ’n TEC-ontleding sal jy dit nie agterkom nie.”
Grond-pH
Dit het ’n deurslaggewende uitwerking op die opneem van voedingstowwe uit die grond. Die meeste minerale is teen ’n grond-pH van 6,4 die maklikste vir plantopname beskikbaar, sê Sait. In suurder grond sal party minerale minder beskikbaar wees, en in meer alkaliese grond word voedingstofopname ook ingekort.
Sy raad is blaarvoedings as jy ’n land met ’n hoë pH oorgeneem of geërf het. Op dié manier, meen hy, kan jy intussen die probleem omseil van voedingstowwe in die grond wat nie vir plantopname beskikbaar is nie totdat die pH gebalanseer kan word.
Paramagnetisme
Dié verskynsel, algemeen bekend as PCSM, is die eerste keer deur die Amerikaanse wetenskaplike prof. Phil Callahan beskryf. Hy het vasgestel dat die produktiewe vrugbaarheid van vulkaniese grond regstreeks met sy paramagnetiese gehalte verband hou.
Sowat 28% van Suid-Afrika se grond het uit hierdie kategorie ontwikkel, het ’n omvattende en jare lange opname waarvan die resultate in die South African Journal of Plant and Soil gepubliseer is, getoon.
Sait verduidelik vulkaniese grond is soos antennas en ontvangers wat spesifieke radiogolwe uit die atmosfeer aantrek en opberg.
Hierdie grond het die vermoë om hierdie energie nie net op te berg nie, maar om dit in ligdeeltjies om te skakel wat vir die plantwortels en die omringende mikro-organismes letterlik ligenergie gee.
Dit bevorder wortelgroei, asook stikstofbinding by peulplante, en stimuleer voordelige mikrobes. Hoe hoër die grond se PCSM-telling, hoe minder is die boer se produksieprobleme en hoe beter sy opbrengs, sê Sait.
Organiese materiaal
Dié telling is waarskynlik die belangrikste aanduider in ’n grondtoets, meen hy.
“Dit vorm die grondslag van grondvrugbaarheid. Organiese materiaal is die ‘groot vergewer’. Jy kan allerhande mineraalwanbalanse en -tekorte in jou grond systap bloot omdat die humus daarvoor vergoed of dit buffer. Hoe hoër jou grond se humusvlak, hoe groter is die mikrobiese werkmag en hoe suksesvoller verbouing.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.