Oudpres. Robert Mugabe het in Zimbabwe gewys hoe. Daar het dit aanvanklik goed gegaan en die wit boere het Mugabe “good old Bob” genoem. Toe die ekonomie egter begin wankel en die oorlogsveterane druk op hom begin plaas het om vir die struggle vergoed te word, het “good old Bob” die reëlboek weggegooi, en Zimbabwe was op sy vernietigingspad.
Meer tyd was nodig om Suid-Afrika met ’n florerende ekonomie en ’n uitstekende infrastruktuur, asook oudpres. Nelson Mandela se heilsame invloed, af te takel. Dit was egter onvermydelik dat korrupsie en verval weens wanbestuur die land sou bring tot waar ons nou in die siekeboeg is. Meer as 17 miljoen mense kry welsynstoelaes.
Omtrent 28% (eintlik baie meer) van die bevolking is werkloos, en talle word misdadigers om te oorleef. Onderwys is ’n totale mislukking ten spyte van die reusebedrae wat daaraan bestee word. Net sowat die helfte van die kinders wat graad 1 begin, bereik matriek.