Dit gaan nie altyd klopdisselboom in familie-ondernemings nie, maar duidelike riglyne wat vooraf neergelê is, kan hierdie ondernemings en hul volgende geslagte help om veilig deur stormwaters te vaar.
Mnr. Kallie Schoeman, besturende direkteur van die Schoeman-groep, is aan die stuur van hul familie-onderneming sedert hy 23 jaar oud is. Hy is ook gebore om ’n boer én produsent van voedsel te wees.
“My naam, Karel, beteken ‘bewerker van die grond’. Ek het dus nie veel ander opsies gehad as om te boer nie.” Schoeman was een van die sprekers op ’n Afrika-konferensie vir familie-ondernemings wat deur PwC op Stellenbosch aangebied is.