Ekonomiese vooruitsigte het aansienlik verander in die drie maande nadat Rusland Oekraïne binnegeval het. Alles kan nie aan die inval toegeskryf word nie, maar niemand sal waarskynlik stry dat dit die grootste bydrae tot die swakker ekonomiese vooruitsigte gelewer het nie.
Ekonome is bekommerd dat ’n resessie die wêreld in die gesig staar. Verbruikers in Suid-Afrika se besteebare inkomste gaan in 2022 onder nog groter druk kom. Hoë brandstofpryse lei tot hoër voedselpryse.
Die toename in inflasie en voedselinflasie wat deurlopend bo 6% gaan wees, gaan die Reserwebank dwing om in 2022 verdere stygings in die repokoers aan te kondig. ’n Hoër repokoers lei tot hoër rentekoerse en laer verbruikersbesteding.