Die koste wat met bedrog in die graan- en oliesadewaardeketting gepaard gaan, is nie net die direkte geldelike verliese van miljoene rande nie. Dit ontwrig ook almal wat betrokke raak om die misdaad te probeer aanpak omdat dit tyd kos wat eerder aan bedryfsake gegee kon word.
Ondernemings is ook nie altyd kundig om misdaad aan te pak nadat dit plaasgevind het nie. Bedrog moet altyd by die polisie aangemeld word en ’n saaknommer moet verkry word voordat finansiële instellings soos banke en versekeringsmaatskappye kan optree.
Die omvang van internetbedrog is aansienlik en ’n daaglikse werklikheid. As jy nie waaksaam is en jou stelsels gereed het nie, is dit net ’n kwessie van tyd voordat jou onderneming daaronder gaan deurloop.