
Kaap Agri se aandeelhouers kry vanjaar ’n vroeë Kersgeskenk in die vorm van ’n totale dividend wat 202% per aandeel méér is as ’n jaar gelede. Dié landbougroep het die onsekerheid van covid-19 afgeskud en is goed geposisioneer om groeigeleenthede ná die pandemie te benut.
Laer skuldvlakke, die doeltreffende bestuur van bedryfskapitaal en ’n goeie landboujaar het die bevredigende resultate ondersteun, sê mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof. Kaap Agri spesialiseer in landbou-, brandstof- en verwante kleinhandelsmarkte en het 226 ondernemings in agt provinsies en Namibië.
Hy sê die uitstaande kenmerk van vanjaar se syfers is dat al die afdelings van die onderneming baie goed presteer het. Die omset in al drie spesialisasiegebiede – brandstof, landboukleinhandel en graan – het gestyg.
Die groep het sy inkomste in die boekjaar tot einde September met 23% tot R10,6 miljard verhoog, wat veral ondersteun is deur ’n styging van 17% in die aantal transaksies wat gedoen is. Verkope van brandstof en aankope by Kaap Agri se geriefswinkels het veral stewig gegroei. Die slotdividend van 111c per aandeel bring die totale dividend vir die boekjaar op 151c per aandeel te staan, teenoor 50c in die vorige ooreenstemmende tydperk.
Handelstoestande lyk beter
Walsh sê die handelstoestande is in dié boekjaar steeds deur covid-19 geraak, hoewel die impak op die landbou en algemene kleinhandel beperk is danksy die verslapping van die streng inperkings. Faktore soos brandstofprysverhogings, veranderings in verbruikers se reispatrone en verminderings in die aantal ritte weens inperkings knel die brandstofbedryf se volumes, maar Kaap Agri se The Fuel Company (TFC), wat vulstasies en geriefswinkels bedryf, se verkope het met 23,3% teenoor die 2019-vlakke verbeter, terwyl die groep se brandstofvolumes 13% hoër is teenoor dieselfde tyd verlede jaar.
TFC het in Oktober (nadat die 2020-’21-boekjaar afgesluit het) sy eiendomsafdeling, TFC Properties, bestaande uit 21 eiendomme waarop van TFC se vulstasies en geriefswinkels geleë is, verkoop. TFC gaan die 21 eiendomme voortaan op ’n langtermyngrondslag huur.
Walsh sê dit maak meer sakesin omdat die opbrengs op dié eiendom laer as die beter opbrengste aan die bedryfskant van TFC was. “Ons gaan ons skuld verminder in TFC, wat hom in staat sal stel om selektief meer beleggings in die toekoms te doen.”
Vogens Walsh het kleinhandelverkope vanjaar beter gegroei as landbouverkope, en in sommige gevalle selfs teruggekeer na die hoër vlakke wat voor die pandemie aangeteken is. Kleinhandel is nou verantwoordelik vir 37% van die groep se handelswins, brandstof 32%, landboudienste 23%, en vervaardiging 8%. Walsh sê uitstekende groei is behaal deur die groep se Agrimark-winkels, New Holland-agentskappe en die graanafdeling.
Graanafdeling se inkomste verstewig
Kaap Agri se graandienste, wat graanhantering en -opberging, saadverwerking en die bemarking van aartappelmoere insluit, het sy inkomste met 38,1% verbeter, terwyl bedryfswins voor belasting met 12,5% verstewig het. Die verbeterde prestasie is te danke aan ’n groter koringoes en gevolglike hoër inkomste uit graanverhandeling. Die groep sien uit na ’n hoër as verwagte koringoes in die nuwe boekjaar, wat sy prestasie vorentoe gunstig beïnvloed.
Oor die moontlike gevolge wat hoër kunsmispryse op Kaap Agri se toekomstige prestasie kan hê, sê Walsh dit kan kleinhandelverkope in die volgende ses maande demp. “Omdat die boer sy besteebare inkomste konserwatief moet bestuur om genoeg geld vir insetkoste soos kunsmis te hê, gaan hy dalk nie ander uitgawes aangaan soos om besproeiing te vervang of verf vir die werkers se huise te koop nie.”
Walsh is optimisties oor Kaap Agri se vooruitsigte en sê die groep is goed geposisioneer om munt uit enige verbetering in handelstoestande te slaan.