Wêreldwyd kan die aanbod kiwivrugte nie met die vraag byhou nie. Voorspellings dat dié gewas die volgende witgoud is, is nie ’n oordrywing nie. Statistieke wat onlangs oor die huidige groeityd in Nieu-Seeland bekend gestel is, wys die gemiddelde inkomste uit geel kiwivrugte was NZ$114 345 (sowat R1 miljoen) per hektaar.
Let daarop dat dit die gemiddelde inkomste is – sommige boere het veel meer gemaak. Hierdie inkomste is beslis haalbaar in Suid-Afrika, en kan selfs hoër wees as gevolg van die land se vroeë produksietydperk en meer sonskyndae. Sien ook “Kiwi’s op die kruin”, LBW, 4 Mei 2018, waarin aangevoer is R400 000 per hektaar wins vir Suid-Afrikaanse boere is ’n konserwatiewe som.
In die Suidelike Halfrond is Nieu-Seeland Suid-Afrika se enigste werklike mededinging, maar danksy Suid-Afrika se breedteligging kan hy vier tot twaalf weke vroeër as Nieu-Seeland uitvoer. Dié vrugte sal die markgaping in Asië en Europa vul waartydens daar geen of baie min vrugte beskikbaar is en die mark bereid is om hoë pryse te betaal.