Goeie beleidmaking vereis betroubare, vergelykbare statistieke oor tyd heen. Ondanks die feit dat daar elke jaar ’n opname van landbouondernemings in Suid-Afrika gemaak word, heers verwarring oor die aantal kommersiële plase en die struktuur van die landbousektor.
Volgens die landbousensus van 2007 was daar 39 966 kommersiële plase, terwyl die syfer volgens die landbou-opnames van 2008 en 2017 onderskeidelik 64 192 en 57 126 was. Met syfers wat so baie verskil, watter syfers moet ons vertrou en hoe ontleed ’n mens neigings in die landbousektor en neem besluite gegrond op bewyse?
Hoewel ons nie tans al die antwoorde het nie, kan ons ’n bietjie duidelikheid oor die landbousektor verskaf. Dit is danksy ’n nuwe, anonieme administratiewe datastel afkomstig van die nasionale tesourie wat die statistiese bevolking van entiteite wat BTW betaal, bevat.