Jy kan jou bates aan jou seun laat vererf en dit só in jou testament bepaal. Jou seun kan die eksekuteur van jou boedel wees, asook die erfgenaam. Omdat jou seun jou erfgenaam gaan wees, moet hy verkieslik nie jou testament opstel nie.
Hy mag ook nie jou testament as ’n getuie onderteken nie. Dit moet deur twee onafhanklike getuies in jou teenwoordigheid onderteken word.
Die begrip “lewensreg” dui op lewenslange reg van vruggebruik oor ’n eiendom ten gunste van die houer daarvan. So ’n persoon is geregtig op die “vrugte” van die eiendom.