Hoe gaan ons dit doen? Deur die bekamping van dieresiektes, die verskaffing van ’n veilige produk aan die verbruiker, beter uitvoermoontlikhede en groter aandag aan naspeurbaarheid en transformasie.
Aangesien dieresiektes een van die brandpunte in die bedryf is, is die rooivleisbedryf bereid om finansieel tot die bestuur van dieresiektes by te dra. Dit is een van die besluite wat deur die nasionale RPO op sy 2017-kongres geneem is. Die RPO is dit eens dat die Regering en die private sektor saam verantwoordelikheid moet aanvaar vir die uiters belangrike kwessies van onder meer die bekamping van bek-en-klouseer en inenting teen brucellose, wat volgens wet verpligtend is.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se veeartsenykundige strategie sluit hierby aan. Die strategie is goed, maar die toepassing daarvan is problematies. Kwessies wat die verbruiker raak, is ook van groot belang. Heelwat stappe kan gedoen word om die verbruiker van ’n selfs beter, veiliger en veelsydiger produk te voorsien.