
Volgens mnr. Alwyn Kraamwinkel, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro), wys dié groei dat oproepe dat die Regering moet ingryp omdat die bedryf aan die kwyn sou wees, onwaar is.
Kraamwinkel het op die jaarlikse simposium van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Suiweltegnologie (SAVST) gesê van 2008 tot 2017 was die jaarlikse produksie in slegs twee gevalle laer as in die vorige jaar, naamlik in 2009 en 2016.
Die produksie verloop elke jaar meestal volgens dieselfde kurwe, met ’n daling wanneer die winter op pad is en ’n styging in die lente. Die produksie begin dus gewoonlik vanaf Januarie daal, maar tot dusver vanjaar toon voorlopige syfers dat die kurwe nie noodwendig dieselfde gaan lyk nie. Die produksie in Maart was sowat 6% hoër was as ’n jaar gelede.
Na aanleiding van die pryse van termynkontrakte vir mielies gelewer in Julie lyk dit asof voerpryse waarskynlik nie vanjaar gaan styg nie, het Kraamwinkel gesê.
Faktore wat bedryf gaan beïnvloed
Die klimaat, met sekere gebiede wat nog onder droogte gebuk gaan, asook die vraag na suiwelprodukte in die kleinhandel en hoeveelhede van suiwelprodukte wat ingevoer word, sal dus die faktore wees wat die bedryf in die komende maande gaan beïnvloed.
Verlede jaar was daar ’n groot styging in invoer in sekere produkkategorieë.
Die invoer van “melk en room” was dubbel soveel as in die vorige jaar, terwyl 51% meer in die kategorie “gekonsentreerde melk” ingevoer is. Die uitvoer van produkte in die kategorie “melk en room” het met 21% gedaal, maar die uitvoer van gekonsentreerde melkprodukte het met 102% gestyg.
Kraamwinkel het gesê invoer word beïnvloed deur internasionale pryse, die wisselkoers en verwagtinge oor produksie in Suid-Afrika.
Wat verkope van produkte op winkelrakke betref, is 9% meer langlewemelk verlede jaar vergeleke met 2016 verkoop. Die prys was 0,7% hoër. Verkope van vars melk het met 3,7% gedaal en die prys met 0,5%.
Botter se prys het verlede jaar met 28,3% gestyg en verkope het met 5,5% gedaal.