Ek kry hom met ’n bakhand voor die bottelwinkel staan. Hy sing ’n versie: “Immer spoelend, wieg’lend woelend.” Sy oë is troebel en sit diep en versonke, soos verstekelinge in ’n spelonk-skuiling, vir my en kyk.
Sy oogbanke met weerbarstige wenkbroue en die neus met fyn aartjies soos dié van die hoofouderling in ’n nagmaalkerk. Die spore van Bacchus maak diep dongas op sy gelaat.
Die kleur van sy gesig laat my dink aan ’n kruising tussen laatoes of grand cru en rosé, en, noudat ek daaraan dink, miskien ’n klein knertsie jeripigo. Sy lippe vorm die woorde, maar die geluid hoor ek slegs in my geestesoor.