Ek verwys na voorbladopskrif in LBW van 22 September 2022, “Vliegtuigwins sit gewasse ore aan”. Ons doen al jare lank lugbespuiting en sou graag wou sien hoe dit moontlik is dat die inkomste uit vliegtuie tienvoudig hoër is as uit kontantgewasse.
Alle koste rondom ’n vliegtuig is dollarverwant. Dit is onnodig om die uitwerking van die swak wisselkoers op ons bedryf te verduidelik. Die Air Tractor 502XP kos sowat $1,2 miljoen. In randwaarde teen R18/$ is dit sowat R22 miljoen.
Die vliegtuig moet elke 100 uur gediens word teen ’n baie konserwatief berekende R50 000 per diens. Op 3 500 uur moet die enjin heeltemal oorgedoen word teen ongeveer $400 000 (R7,2 miljoen). En dit is slegs enkele aspekte.