Ek hou baie van standbeelde. Hulle vertel stories van wat daardie mens gedoen het vir die samelewing en vir ander mense, en dat hy of sy betekenis gehad het. En die standbeeldbouer moes kunstig gewees het om uit ’n stuk graniet of marmer iets te kap wat soos ’n mens lyk.
Ek wonder altyd waar sy eerste kap en beitel gaan wees. Dit moet nogal ’n eer wees as hulle ’n standbeeld van jou maak. Net jammer dit is gewoonlik eers wanneer jy nie meer hier is om dit te sien nie, dat daar besluit word om jou in klip te verewig.
Ek ken ’n paar mense vir wie ek ’n standbeeld wil bou. Vir party wat nie meer op aarde is nie, maar vir ’n hele paar terwyl hulle nog hier is, sodat hulle kan sien watter groot invloed hulle op my lewe het. Maar wat nog beter as ’n mensgemaakte standbeeld is, is as die Here vir jou ’n standbeeld bou.