
Covid-19-inperkings het vroeg vanjaar, met die later opening van skole, verkope van RFG Foods (voorheen bekend as Rhodes Food Group) se 200 ml-vrugtesaphouers geknou, maar dit het later fluks herstel.
Dié klein verpakkings is dikwels deel van leerlinge se kospakkies skool toe en verkoopsvolume het in die tweede deel van die groep se jongste boekjaar tot einde September met 52,7% gegroei.
Mnr. Pieter Hanekom, sedert 1 Oktober uitvoerende hoof ná die aftrede van mnr. Bruce Henderson, het met die bekendmaking van die groep se jaarresultate gesê inperkings raak ook sy pasteiverkope.
Oor die vooruitsigte vir RFG se streeksbedrywighede (Suid-Afrika en 16 ander Afrikalande) het hy gesê die groep hoop die ekonomie sal normaliseer en dat die covid-19-inentingsprogram ’n gunstige uitwerking op verbruikersbesteding sal hê, wat steeds onder druk is.
Die streeksegment verteenwoordig 81% van die groep se inkomste.
RFG se genormaliseerde bedryfswins het met 9% tot R419 miljoen gestyg. Groepsverdienste het met 1,5% tot R6 miljard gegroei. In die eerste ses maande het dit met 3,4% gedaal, maar in die tweede ses maande met 6,3% gestyg, hoofsaaklik aangedryf deur die herstel in verkope van vrugtesappe en ingemaakte vrugte op sy internasionale mark.
Groei in ander Afrikalande
RFG se streeksegment is in die tweede halfjaar geraak deur ’n staking by sy aanleg vir die vervaardiging van gereed-om-te-eetmaaltye en pasteie in Gauteng en die onrus in KwaZulu-Natal.
Sy inkomste uit langlewevoedsel het met 5,1% gegroei en dié verkope na die res van Afrika het met 11,5% gegroei, met goeie groei in die verkope van vrugtesap, ingemaakte vleis en groente en droë voedsels.
Verkope van gereed-om-te-eetmaaltye en suiwelprodukte het veerkragtigheid in die swak verbruikersmark bly toon en het die omset van die varsvoedselkategorie met 2,3% laat styg.
RFG het nou ’n kontrak met Pick n Pay om ’n vrugtesapreeks onder hul private etiket te produseer en het met Clicks ’n ooreenkoms gesluit vir die verpakking van sy Made 4 Baby-pureereeks.
Buiteland lus vir SA vrugte
In die eerste halfjaar het die verkope van sy internasionale segment met 20,7% gedaal, maar in die tweede helfte met 8% gegroei danksy sterk vraag na ingemaakte vrugte op sy internasionale markte. Sowat 34% van sy uitvoer is na Amerika en 30% na Europa.
“Die internasionale vraag na die groep se ingemaakte vrugte bly sterk en uitvoer word na nuwe markte uitgebrei,” het Hanekom gesê. “Ons verwag uitvoervolume om te herstel namate die verskepingsagterstand oor die volgende 12 tot 18 maande afneem.”
Energie
RFG het sonkrag by sy vrugtesapaanleg in Wellington geïnstalleer. Hernubare energie word by nóg persele oorweeg.