Suid-Afrikaners is die afgelope paar jaar intens bewus van watertekorte en beurtkrag, maar ook van inflasionêre elektrisiteits-, brandstof-, kunsmis- en voedselpryse, en wêreldwyd worstel lande met dié kwessies.
Voedselsekerheid, met ander woorde die produksie van gesonde, veilige voedsel in voldoende hoeveelhede teen pryse wat nie tot buitengewoon hoë stygings in die algemene lewenskoste lei nie, hang nou saam met genoeg, skoon water en voldoende, bekostigbare energie.
Trouens, die Verenigde Nasies (VN) se Voedsel-en-landbou-organisasie (VLO), verwys daarna as die water-energie-voedsel-neksus. Suid-Afrika se kragkrisis het opnuut onderstreep dat beurtkrag watervoorsiening in die wiele ry.