Dit is uiters waardevol vir boere, mynbouers, bioloë, konsultante, staatslui en die bedryf. Die boek bevat omvattende inligting oor Namakwaland se ekologie, geskiedenis, plant- en natuurlewe, en die kwessies wat sy ekostelsels bedreig.
Metodes word bespreek oor hoe om die grondoppervlak te bewaar en te stabiliseer, en die hervestiging van plantlewe aan te wakker. Die plant van sade en plante in gebiede wat agteruitgegaan het, saaitegnieke en kwekerymetodes word ook bespreek.
Daarby sluit die boek ’n 100-puntmetode in waarmee praktisyns die herstelsukses kan meet. Die skrywers is die omgewingskenner dr. Patrick Carrick, paleo-ekoloog dr. Susan Botha en ekoloog mnr. Raldo Krüger, na aanleiding van hul betrokkenheid by die Namakwaland-herstelinisiatief, deesdae bekend as die Nurture Restore Innovate, of NRI.