“Hierdie is een van die grootste mylpale nóg in die landbou,” het mnr. Nick Serfontein, stigter van die Sernick-groep en een van die betrokkenes met die beplanning van Agda, op die bekendstelling gesê. Die agentskap het begin met ’n aanvanklike 36 stigterslede, maar tientalle ander individue en organisasies het hul name bygevoeg ná die bekendstelling.
Me. Leona Archary, ’n voormalige adjunk- direkteur-generaal van landelike ontwikkeling en grondhervorming, is as waarnemende uitvoerende hoof van die agentskap aangestel. Sy het gesê daar is ’n behoefte aan vennootskappe om groei in die land te bewerkstellig.
Agda sal klem lê op die vestiging van vennootskappe met koöperasies, kommersiële boere, gemeenskappe, die georganiseerde landbou, die finansiële sektor en landboubesighede in die algemeen.