Dr. André Schreuder, voormalige besturende direkteur van Villa, het by die onlangse bekendstelling gesê die twee entiteite se vennootskap is gebore uit die behoefte aan ’n beter benadering tot landbou-opleiding. “Daar moet ’n meer geïntegreerde benadering gevolg word waar landboustudente – of hulle onlangs gematrikuleer het en of hulle reeds op ’n plaas werk – ’n diploma kan verdien, terwyl hulle terselfdertyd ervaring op die plaas opdoen of voortgaan met hul plaas- of landbouwerk,” sê hy.
In dié verband bied die Monash Villa Academy teoretiese en praktiese opleiding, gerugsteun deur bedryfsbetrokkenheid en volgehoue studente- terugvoer aangaande die kursusse en dosente, om te verseker dat opleiding van die hoogste gehalte gelewer word.
“Ons uitgangspunt van die begin af is dus om eers die behoeftes op die plaas te identifiseer en die kursusse dan daarvolgens op te stel. Sodoende kan ’n werker op ’n plaas eers ’n oorbruggingskursus voltooi, daarna ’n graad 12-kwalifikasie verwerf en dan ’n diplomakursus volg, alles terwyl die mens op die plaas bly werk.”