
Daar is baie gemeenskappe wat op Tongaat Hulett staatmaak. Mislukking is nie ’n opsie vir die maatskappy nie. Dít was die boodskap van mnr. Gavin Hudson, uitvoerende hoof van die sukkelende suikerprodusent Tongaat Hulett, toe hy die groep se tussentydse resultate aan aandeelhouers bekend gemaak het en hulle gevra het om ’n regte-uitgifte van R4 miljard te ondersteun om die maatskappy uit die skuld te kry.
Die genoteerde maatskappy lewer 43% van Suid-Afrika se suiker en is die grootste werkgewer in KwaZulu-Natal. Hy is sedert 2019 in ’n stryd gewikkel om winsgewendheid te herwin ná ’n boekhouskandaal wat die groep met ’n reusagtige skuldlas van R11 miljard gelaat het. Sy markwaarde op die JSE is tans slegs R784 miljoen en hy moet nog R6,9 miljard se skuld delg.
Tongaat Hulett het in die ses maande tot einde September ’n wesensverlies van R254 miljoen gely, teenoor ’n wesensverdienste van R59 miljoen vir die die ooreenstemmende tydperk in 2020. Ander terugslae in dié oorsigtydperk is die ongunstige uitwerking van hiperinflasie in Zimbabwe op sy suikerwinste en ’n hoër belastingkoers weens rekenkundige foute wat voorheen gemaak is en nou reggestel word.
Asof sy omdraaistrategie nie reeds genoeg finansiële druk veroorsaak nie, het die onrus in KwaZulu-Natal in Julie Tongaat Hulett van R158 miljoen se wins beroof toe suikerrietplantasies aan die brand gesteek en voorraad geplunder is. Eiendom is beskadig en verkope is gekanselleer.
Dít los Hudson en sy bestuurspan met baie min beweegruimte. Die maatskappy het reeds bates soos sy styselafdeling, een van sy groot geldmakers, verkoop. Kleiner bedrywighede in buurlande en aantreklike gedeeltes van sy eiendomsportefeulje is ook reeds van die hand gesit om skuld terug te betaal. Die groep is uiteindelik genoodaak om in November ’n regte-uitgifte ter waarde van R4 miljard aan te kondig. Hiervan word R2 miljard onderskryf deur Magister Investments, ’n ongenoteerde landboubeleggingsmaatskappy met sy hoofkantoor in Mauritius.
“Dis tyd vir ’n nuwe hoofstuk vir Tongaat Hulett. Ons glo deur ’n regte-uitgifte van R4 miljard sal Tongaat Hulett op lang termyn groei ontsluit en intrinsieke aandeelhouerswaarde beskerm,” het Hudson gesê. Hy het aandeelhouers gewaarsku dat die alternatief, om verdere bedrywighede te verkoop, waarde sal vernietig en die meer as 50 000 afhanklikes wat op die maatskappy staatmaak, van ’n nalatenskap sal ontneem.