Opwekkers, opwekkers, dis maar al. ’n Mens moet krag maak, sê mnr. Franco Koch van Eenboom-boerdery by Moorreesburg. Hy kan nie bekostig dat beurtkrag die gemak van die varke in die boerdery se intensiewe 600-sogeenheid knou nie.
“Alles in die hokke werk met krag – die gordyne wat outomaties oop- en toemaak, die waaiers en besproeiing wat aan- en afgaan as dit te warm raak, en die verwarmers vir die klein varkies.
“Die water moet teen ’n sekere druk wees sodat elke sog genoeg water kry as sy drink. ’n Dier wat buite loop, sal in die skaduwee gaan staan, maar hier moet optimale temperature en water op die regte tyd beskikbaar wees sodat die sôe genoeg melk kan produseer.”