
Minimum- en deklaagbewerking het die afgelope paar jaar ’n groot bydrae gelewer om bogrond op lande koeler te hou en verdamping te beperk, sê mnr. Andrie Visagie, landbou-ingenieur van Bothaville.
Stoppelbedekking alleen is egter nie voldoende nie omdat dit selde meer as die helfte van die grond bedek. Deur die winter, as die blare wegwaai en krimp, verminder die bedekking maklik tot minder as 20%, sê hy. Visagie wys daarop dat vogverlies van tot 40% en selfs meer vanaf die grondoppervlak kan plaasvind as ’n boer nie voorsiening maak om verdamping te beperk nie.
“Bedekking van die grondoppervlak met stoppels is die ideaal, maar die hoeveelheid stoppels is selde genoeg vir ideale bedekking en vogbewaring. Die waarde van ’n los grondkombers om vog te bewaar, word onderskat.
“Suid-Afrika is ’n relatief droë land, met lae en wisselende reënval en hittegolwe wat van seisoen tot seisoen verskil. Suksesvolle graanproduksie is net moontlik as ons die regte tegnieke toepas, want dikwels boer ons eintlik maar in ’n woestyn.”
Doeltreffende vogbewaring en die beskikbaarstelling van bewaarde vog is die belangrikste van hierdie tegnieke, meen Visagie. Hy wys daarop dat enkelkoppige mielieplante rondom 700 liter water in die groeiseisoen nodig het om een kilogram pitte te produseer. ’n Meerkoppige plant, sê hy, het sowat 400 liter water daarvoor nodig.
“As 5 ton mielies per hektaar geproduseer word in ’n reënvaljaar van 500 mm, beteken dit dat 1 000 liter water gekry is vir elke kilogram wat geproduseer is. Dít beteken dat maklik die helfte van die vog wat ontvang is, nie gebruik is nie, maar deur afloop, dreinering, onkruid en verdamping verlore gegaan het.”
Verdamping vanaf die bogrond deur die jaar is die grootste vogverliessondaar, meen Visagie. Dít gebeur grootliks weens ’n hoë grondtemperatuur wat deur son en wind veroorsaak word. Namate verdamping uit die bogrond plaasvind, word vog kapillêr met suigkrag uit die ondergrond aangevul, wat dan die ondergrond ook uitdroog.
Volgens hom is dit noodsaaklik om met ’n snybewerking tot so diep as 150 mm ’n los grondkombers te skep wat keer dat die son se hitte diep binnedring en vog uit die onderste grondlae “uitkook”. Dit breek kapillêre vogbeweging vanuit die dieper lae na die oppervlak.
“Dit is ’n swaar bewerking, maar dit skakel chemiese onkruidbestryding uit, en spaar uiteindelik brandstof,” sê Visagie. Nog voordele is dat winteronkruid vernietig word, kluitvorming met opvolg- diep winterbewerkings grootliks uitgeskakel word, en minder brandstof verbruik word om die ondergrond los te breek omdat meer vog dan beskikbaar is.
“Ons moet aanvaar dat die los grondkombers vinnig uitdroog, as dit nie reeds droog is nie, omdat vogaanvulling nie meer van onder gebeur nie, maar die ondervog word dan grootliks bewaar.”
Bewaar stoppels
Dit is ook belangrik dat stoppels op die grondoppervlak bewaar word, sê Visagie. Die stoppels moet so lank moontlik wees en bly staan sodat dit die windspoed op die oppervlak breek. Dít voorkom dat ligte stoppels soos blare wegwaai. “Hoe vollediger die bedekking, hoe koeler die grond en hoe minder die verdamping.”
Om die vermindering en vernietiging van stoppels te beperk, moet dit eerstens minder deur trekker- en werktuigwiele fyngetrap word, sê Visagie. Dit moet minder deur bewerking ingewerk of deur grond bedek word. Dit moet ook nie platgewerk word nie, want staande stoppels verweer stadiger, beperk windspoed op die oppervlak en beperk die wegwaai van los blare.
Spoorverkeer
“ ’n Trekkerwiel op ’n harde oppervlak het aansienlik minder rolweerstand as een op los grond. Energie is nodig om die los grond vas te trap, want die wiele sak in en moet dan heeltyd opdraand loop. Die omvang van hierdie brandstofverlies word nie altyd besef nie.
“Om rolweerstand oor ’n los oppervlak te oorkom, kan maklik 20% tot 50% meer brandstof nodig wees om die volgende bewerking te kan doen.
“Dubbel- en rusperbande moet gebruik word om diep te trap en die rolweerstand te verminder, terwyl enkelwiele op ’n vasgetrapte spoor heelwat minder rolweerstand hoef te oorkom.”
Selfs ’n enkel-trekkerwiel op ’n harde oppervlak lewer meer trekkrag met minder brandstof as ’n dubbelwiel op ’n sagte los oppervlak, sê Visagie. Wielglip is niks minder nie as ’n regstreekse vermorsing van brandstof, meen hy.
Hy sê ’n groot nadeel van dubbelbande in deklaagbewerking is dat dit die stoppels op die oppervlak stukkend trap en die losgebreekte grond weer verdig. “En ons weet dat plantegroei in wielverdigte grond erg benadeel word.”
Aanbevelings
Visagie se jare lange ondervinding toon die volgende praktyke kan vog meestal die doeltreffendste in ’n saailand bewaar en help om warm en droë tye te oorbrug:
’n Stroop: Die plantmateriaal moet so min as moontlik beskadig word. Stroop so hoog moontlik; moenie die materiaal kerf nie, en sorg dat die dorsproses so sag as moontlik is sodat die materiaal nie verkrummel nie. Die ideaal is om nie die stoppel te trap nie en op die spoorverkeerspore te bly.
’n Grondkombers: Skep so gou moontlik ’n grondkombers om verdamping te beperk. Die bewerkingsdiepte moet van 100 mm tot 150 mm wees, maar versteuring van stoppels op die oppervlak moet steeds sover moontlik beperk word. Die ideaal is dat die stoppels bly staan en die skoffeltande weerskante van die ou rye gehou word om so min steuring as moontlik te veroorsaak.
Visagie beveel ’n sterk, swaar V-lem-skoffel aan, met hangers minstens 300 mm weg van die rye af. Hy sê dit is ’n relatief diep en swaar bewerking, maar voorkom saam met die stoppelbedekking vogverlies dwarsdeur die winter. Meer vog word dus na die volgende oes oorgedra.
Oor rywydtes meen Visagie dit is belangrik dat ’n boer in ’n spoorverkeerstelsel die wielspoorwydtes van sy trekkers en stropers sover moontlik aanpas om vogbewaring die hoofdoelwit te maak. Sy meganisasiestelsel moet veral daarop gerig wees om die grond so min as moontlik te verdig en stoppels in te trap en te vernietig. Hy voeg by dat dit belangrik is om nie in of op die vorige jaar se ry te plant nie.
“Weens droë winters vind min verrotting van die wortels plaas. Sodra dit in die lente reën, begin die verrotting. As ’n pit in die massa verrottende wortels geplant word, is dit in ’n negatiewe klimaat wat die gesonde groei van die plant benadeel en swakker produksie meebring.”
Visagie beveel aan dat boere tussen die ou rye, of ten minste 300 mm weg van die ou rye, plant.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.