Me. Thoko Didiza, minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, het dié erkenning aan die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming gemaak. “Ons het vandag 40 122 kommersiële plase en sowat 6,5% van die plase word as grootskaalse boerderye geag. Hulle is verantwoordelik vir meer as die helfte van die werkskepping in die landbou en twee derdes van die landbou-inkomste.”
Sy het gesê die konsentrasievlakke in die kommersiële boerdery brei uit, wat dit moeilik maak vir kleinskaalse produsente om betekenisvol in die landbouwaardeketting deel te neem. Die finale verslag rakende die boereregister sal volgens haar departement in Oktober voltooi wees.
Die verslag dui aan daar was in 2017 altesaam 40 122 kommersiële plase of plaaseenhede. Die Vrystaat het die meeste plase in 2017 gehad met 7 951 of 19,8% plase, gevolg deur die Wes-Kaap met 6 937 of 17,3%, Noordwes 4 920 of 12,3% en die Noord-Kaap 4 829 of 12%. Die provinsies wat die minste plase gehad het, is Gauteng met 2 291 of 5,7%, Mpumalanga 2 823 of 7% en Limpopo 3 054 of 7,6%. Die sensus het ook uitgewys dat veeboerdery die meeste beoefen word.