Dit volg nadat ’n afvaardiging van dié Midde-Oosterse koninkryk onlangs beesplase, voerkrale en slagplase in Suid-Afrika besoek en geïnspekteer het.
Mnr. Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het die besoek bevestig. Hy sê dit vloei voort uit die Suid-Afrikaanse staatsbesoek aan Saoedi-Arabië in Oktober waartydens ’n memorandum van verstandhouding tussen Suid-Afrika en Saoedi-Arabië se ministerie van omgewingsake, water en landbou onderteken is.
“Die besoekende Saoedi-afvaardiging het aangedui dat sy regering ons voor einde Desember van sy besluit in kennis sal stel. Ons is optimisties, want dit lyk asof ons aan al die afvaardiging se vereistes ten opsigte van sy inspeksie voldoen het,” sê Ngcobo. “Ons verwag nie dat bek-en-klouseer ’n probleem vir die Saoedi’s sal wees nie, want hulle weet dat ons vordering maak en dat ons gereeld bygewerkte inligting oor die situasie verskaf.”