Die werklikheid is dat wetgewing oor SEB hier is om te bly. Die voorskrifte word jaar ná jaar strenger. Skaalekonomie dwing die landbou om handel te dryf met kleinhandelaars of die staat, wat SEB-gradering as ’n voorvereiste beskou om sake te kan doen.
Ons kom al hoe meer in aanraking met mense wat al jare lank met die groot kettingwinkels sake doen en nou sterk “aangemoedig” (dalk eerder vrywillig verplig) word om ’n hoë SEB-gradering te bekom. Ondernemings wat ’n omset van minder as R10 miljoen per jaar toon, is kwytgeskelde mikro-ondernemings.
Dié wat ’n omset van R10 miljoen tot R50 miljoen het, is klein ondernemings wat in aanmerking kom, en dié met ’n omset van meer as R50 miljoen is groot ondernemings. Elkeen van hierdie kategorieë het sy eie telkaart om ’n gradering van een tot agt te bekom, waarvan agt die laagste en een die hoogste is.