
Die landboureus Senwes se rekordresultate vir die ses maande tot einde Oktober is nie net aan ’n goeie landboujaar toe te skryf nie. Die maatskappy begin nou voordeel trek uit onlangse verkrygings en sy samesmelting met Suidwes.
Senwes is een van die voorste landboumaatskappye in Suid-Afrika met belange in verskeie van die landbouwaardeketting se skakels. Sowat die helfte van Senwes se klantebasis is boere, maar die ander 50% op ’n volumebasis is die verdere verwerkers van graanhulpbronne, soos meulenaars of olieperse. Hy bedryf sake in sewe van die nege provinsies met ’n teenwoordigheid in meer as 300 plattelandse gemeenskappe. Met verloop van tyd het die onderneming oor verskeie platforms heen gediversifiseeer: geografies, hulpbrongewys en deur sy handelsmerke en klantebasis uit te brei.
Die groep se omset het in die oorsigtydperk met 47,8% tot R5,2 miljard gestyg, terwyl sy verdienste voor rente, depresiasie en amortisasie van R511 miljoen tot R533 miljoen toegeneem het. Wesensverdienste het sy vorige rekordlopie van R224 miljoen met 35,3% tot R303 miljoen oorskry. Kontantvloei gegenereer uit bedryfsaktiwiteite beloop R548 miljoen. Dit is 24,5% hoër as die R440 miljoen wat in die oorstemmende tydperk van die vorige boekjaar gegenereer is.
’n Wins toeskryfbaar aan ekwiteitshouers van die houermaatskappy van R302 miljoen is gelewer vir die ses maande geëindig op 31 Oktober 2021. Dit is ’n styging van 7,5% vanaf die R281 miljoen van die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar.
“ ’n Uitsonderlike landbouproduksie- en kommoditeitspryssiklus, tesame met die ontsluiting van sinergieë uit samesmeltings en die herorganisasie van die groep se sakemodel, het rekordresultate vir die eerste ses maande van die boekjaar tot gevolg gehad,” sê mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes.
Die groep het ’n tussentydse dividend van 34c per aandeel (2020: 32c) verklaar.
Vooruitsigte
Strydom verwag dat hoë reënval en gunstige grondvogvlakke ’n goeie seisoen tot gevolg behoort te hê. Hy voorsien dat graanuitvoer sal toeneem, wat waarskynlik laer graanoordragvoorraad vir die volgende seisoen tot gevolg sal hê.
“Senwes is daartoe verbind om sy strategiese diversifikasie na laerrisikomarkte voort te sit,” sê Strydom. Hy wys daarop dat die landbousektor, nes enige ander hulpbronsektor, siklies presteer en op die oomblik ’n goeie siklus beleef. Elke inset se siklus lyk anders en word deur ander faktore beïnvloed. Daar is tans probleme soos die uitermate hoë pryse vir hulpbronne soos kunsmis, chemikalië en brandstof.
Strydom noem ook die probleme in die internasionale voorsieningskettings wat beteken dat al die belanghebbendes in die voorsieningsketting ’n bietjie meer voorraad dra net om sekerheid te kry. Dit geld ook ’n onderneming soos Senwes en dit skep bykomende koste net om te sorg dat sy verkoopsvolumes nie deur tekorte in die wiele gery word nie.
Senwes, wat op die ZAR-X-beurs genoteer was, is genoodsaak om sy notering te beëindig nadat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor ZAR-X se lisensievoorwaardes in Augustus 2021 opgeskort het. Sedertdien word Senwes se aandele oor die toonbank verhandel.
“Op lang termyn wil ’n mens ’n meer verhandelbare omgewing skep en dit is nie noodwendig dat dit net ’n genoteerde oplossing is nie,” sê Strydom. Die direksie kyk na al die aspekte, ook na Senwes se huidige aandeelhoudingstruktuur, en sal in die eerste helfte van 2022 besluite hieroor kommunikeer.