Hoewel ’n slak nie ’n skaaptjoppie of lekker steak kan vervang nie, groei die bedryf in Suid-Afrika só vinnig dat die handjie vol plaaslike slakboere net in sowat 25% van die vraag na dié delikatesse kan voorsien. Die meeste moet ingevoer word en baie moontlikhede vir uitbreiding bestaan.
Mnr. Johan Oelofse van die Goshen-slakplaas by Wildernis in die Suid-Kaap sê hul grootste afsetgebied is meestal groothandelaars en alle klasse restaurante reg oor die land.
Botter en knoffel is steeds die gewildste manier om slakke voor te berei, maar deesdae raak die sjefs baie kreatief en bedien dit in pastas, risotto’s en selfs op pizzas. Die vraag is egter so groot dat die sowat 60 plaaslike boere nie kan voorbly nie.