Jou geld moet vir jou werk, anders beteken dit niks. Inteendeel, dit verloor waarde as gevolg van inflasie. Kom ons kyk na ’n paar waarhede oor beleggings. Vir my is die beginpunt dat ’n paar vrae beantwoord moet word. Vir hoe lank kan die geld belê word?
Kan alles belê word vir langtermyngroei, of benodig jy ’n inkomste? As jy op lang termyn kan spaar, het jy ’n noodfonds? Dít is die vertrekpunt van ’n sinvolle beleggingsplan. Die antwoorde sal jou lei na die toepaslikste produk.
Spaar jy vir aftrede of vir kapitaalgroei in die algemeen? As dit vir aftrede is, kan jy voordeel trek uit die belastingvoordele van byvoorbeeld ’n uittree-annuïteit (UA), waar die premies belastingaftrekbaar is tot soveel as R350 000 per jaar of 27,5% van jou inkomste, welke een die laagste is. Daarbenewens is die groei in die belegging self belastingvry.