Anzette Finnemore by ’n paar van haar Potch-koekoeke. Foto: Mandi Scholtz Fotografie
Julle het die stadsliggies gegroet om te boer. Vertel meer van jul boerderyfilosofie.
Ons wou aan die stad en die geraas ontsnap. Mense wat fabrieksboerdery teenstaan en gesonde kos wil verbou, het ons geïnspireer. Ons wil deel van die natuur wees; nie dit uitbuit nie. Só probeer ons ’n gesonde lewenstyl handhaaf én ’n goeie bydrae lewer. Verbruikers moet besef wat eetgewoontes vir jou gesondheid beteken en hoe kos geproduseer word.
Hoekom pas lêhoenders goed by jul stelsel in?
Ons glo in herlewingslandbou. Die hoenders skrop natuurlik in die grond en vreet insekte en ongewenste plante, soos geel dissels. Só verbreek die hoender ’n siektesiklus. Sedert verlede jaar verbou ons ook organiese spinasie en koljander. Die hoenders is die beste plaagbestryders, veral om slakke en sprinkane te bekamp.
Met watter ras boer julle?
Die Potch-koekoek, swart Australorp en Lohmann Brown. Ons hou daarvan om eiers in ’n reënboog van kleure te verskaf. Die Lohmann Brown lewer bruin en die Australorps wit eiers, en die Potch-koekoeke gee vir ons baie mooi wit en pienk eiers. Vrylopende hoenders se produksie wissel na gelang van die klimaat en omgewing, maar ons verwag gemiddeld 280 eiers per hen per jaar.
Wat maak die eiers só besonders?
Omdat die hoenders heeldag buite in natuurlike grasse kan skrop en insekte en sade vreet, is die eiers se voedingswaarde hoër. Die vitamien D-inhoud is hoog en die cholesterol laer. Die smaak, kleur en tekstuur staan kop en skouers bo fabriekseiers uit. Ons gebruik nie antibiotika of entstowwe nie, maar gee aanvullende kos en veilige middels om die hoenders sterk en gesond te hou.
Vertel meer van jul spesiale hoenderhokke.
Dit is gegrond op Richard Perkins, ’n Sweedse boer, se verskuifbare hoenderhuis. Die rusbanke waarop die hoenders slaap, is breër, sodat die hoender se borsbeen ook kan rus en sy nie net met haar voete vasklou nie. Die lêkaste is só ontwerp dat die eier wegrol ná dit gelê is. Ons kan dit dus van buite af uithaal.
Watter struikelblokke ervaar julle?
As kleinboere moet ons kreatief wees om probleme op te los. Baie van die tradisionele hulpmiddels is geskoei op groot, konvensionele boere se behoeftes en daar is min inligting en toerusting beskikbaar vir boere wat vrylopend boer in Suid-Afrika. ’n Ander frustrasie is dat groot maatskappye gretig is om sake te doen wanneer jy groot volumes lewer, maar ons volumes is dikwels te min vir hul minimum hoeveelhede.
Wat is jul gunstelingresep met eiers?
’n Eier Benedict-kasserol is die perfekte ontbyt.
Teken in op Landbou.com en kry toegang tot die beste joernalistiek en eksklusiewe produkte.